DIE DUIWEL VLUG WANNEER JY NA JESUS KOM

David Wilkerson (1931-2011)

As volgelinge van Jesus Christus, moet ons heeltyd bewus wees dat die duiwel daarop uit is om ons te vernietig. Daarom sê Paulus ons moet soveel weet as wat ons kan oor die vyand se taktiek en planne “Sodat ons nie deur die Satan bedrieg sou word nie; want ons is met sy planne nie onbekend nie” (2 Korinthiërs 2:11).

Ons lees in Openbaring dat Satan ‘n volskaalse oorlog teen God se heiliges verklaar het met ‘n spertyd wat hy beplan om te haal om sy werk af te handel: “Wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het” (Openbaring 12:12).

Terwyl talle Christene in hierdie middernag-uur sluimer, net soos Jesus voorspel het, werk die duiwel verwoed voort om gereed te maak vir oorlog. Hy is pynlik bewus van die kort tydjie wat hy oor het om sy bose plannne uit te voer en daarom rus hy nie; hy konkel en bedink voortdurend maniere om die Kerk van Jesus Christus te teister en te vewoes.

Satan se spertyd was eeue gelede aan hom gegee; dit kan nagespeur word tot by die wonder wat in die hemel plaasgevind het, ‘n wonder van ‘n ontsaglike oorlog toe Satan vasbeslote was om die Chrisuskind te vernietig (lees die verhaal in Openbaring 12:1-4). Hoe dikwels het die duiwel probeer om Jesus te verslind! En hoewel die groot kosmiese oorlog nie meer tussen Christus en die duiwel is nie, omdat Jesus nou veilig by die hemelse Vader is, voer die duiwel steeds oorlog teen Christus deur sy woede te rig teen sy nakomelinge.

Petrus gee vir ons hierdie raad: “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu en soek wie hy kan verslind” (1 Petrus 5:8).

Wanneer jy beleef dat die vyand nader kom, sal hy, die oomblik waarop jy na Jesus kom, hulpeloos gemaak word. “Weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug” (Jakobus 4:7). Die tye wat voorlê mag moeilik word, maar die Vader het vir ons ‘n uitkoms belowe (1 Korinthiërs 10:13).