DIE DUIWEL SE LEUENS OOR HOOP

David Wilkerson (1931-2011)

Wat kan God se kinders doen om die hart van God te beweeg in hierdie moeilike tye? Is die kerk magteloos om iets te doen? Moet ons sit en wag vir Christus se wederkoms of is ons geroepe om een of ander drastiese stap te neem? Wanneer alles rondom die wêreld bewe, met mense se harte wat beswyk van vrees, word ons geroep om geestelike wapens op te neem en oorlog te voer teen die vyand? Christus se volgelinge het sekerlik ‘n rol om te speel in hierdie donker tye, maar wat is ons versonderstel om te doen? Moet ons in lyn val met die res van die wêreld en óns deel van die stuk koek gryp? Nee, nooit!

Gedurende die tyd van die profeet Joël, het ‘n dag van duisternis Israel genader soos nog nooit in die geskiedenis beleef is nie. Die profeet het selfs uitgeroep, “Ag, die dag! Want naby is die dag van die HERE, en hy kom soos ’n verwoesting van die Almagtige” (Joël 1:15). Joël se raad aan Israel in daardie donker huis was, “Bekeer julle tot My met julle hele hart, en met vas en geween en rouklag ... en bekeer julle tot die HERE julle God; want Hy is genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid” (Joël 2:12-13).

Hier was God se oproep aan die kerk: “Moenie moedeloos word of toegee aan wanhoop nie. Julle moenie die duiwel se leuens glo dat daar geen hoop is nie.” In plaas daarvan, volgens Joël, moes die volk se roepstem tot God wees, “Here, stop hierdie oneer aan u Naam. Moenie dat u kerk meer bespot word nie.” En die Here het geantwoord, “Selfs nou, wanneer julle My uit julle samelewing gestoot het en genade so onmoontlik lyk, as die mensdom spot met my waarskuwings, en vrees en somberheid die land bedek – selfs nou, dring Ek by julle aan om terug te kom na My toe en vir die wêreld my genade te wys.”

Satan wil hê die kerk moet dink daar is geen hoop nie, maar God kom na ons deur hierdie boodskap van Joël: “Daar is hoop en genade – selfs nou. Ek is goedertieren en stadig om kwaad te word en nou is die tyd vir julle om in gebed tot My te nader.” Dit is tyd om terug te keer na die Here in gebed soos nooit tevore nie!