DIE BELONING VAN VOLHARDING

David Wilkerson (1931-2011)

Enige bespreking oor lyding en beproewings moet begin by die mees wanhopige gelowige van alle tye – ‘n regverdige, getroue, Godvresende dienaar, toegewyd aan gebed en aanbidding. Maar toe droefheid en probleme sy lewe oorweldig, het dieselfde man begin om ‘n paar baie neerhalende opmerkings oor God te maak op die hoogtepunt van sy lyding. “As ek dagvaar en Hy my antwoord, glo ek nie dat Hy na my stem sal luister nie. Hy wat my deur ‘n stormwind sou vernietig en my wonde sonder oorsaak sou vermeerder” (Job 9:16-17).

Job het alles wat vir hom dierbaar was, verloor: sy familie, sy gesondheid, sy besittings, selfs sy hoop. Die stelling oor God in die gedeelte hierbo, is net een van vele wat hierdie arme man gemaak het toe sy verskriklike pyne vermenigvuldig het.

Ons land beweeg vinnig na ‘n periode van swaarkry, ‘n tyd soos wat die wêreld nog nooit gesien het nie. Selfs nou, beleef toegewyde gelowiges swaarkry waarvoor hulle vorige belewenisse hulle nog nie voorberei het nie. Christene beleef huwelike wat getoets word; sommige se gesondheid gaan agteruit; ander ly finansiële probleme; en jongmense raak verlore in die malligheid van die uur.

In die dae wat voorlê, kan ons nie toelaat dat ons hoop rus op een of ander lugkasteel en glo dat Christene immuun teen lyding sal wees nie. Ons kan egter verseker wees dat ons hemelse Vader getrou sal wees om ons deur al ons verdrukkings te bewaar en ons te verlos, net soos Hy vir Job gedoen het.

“Julle het gehoor van die lydsaamheid van Job, en julle het die einddoel van die Here met hom gesien, dat die Here vol medelye en ontferming is” (Jakobus 5:11).

Job het volhard en God het aan Hom alles gegee wat hy verloor het en meer. Net so, wanneer jy deur jou beproewing kom, sal jy ‘n ware hartskennis hê dat God in beheer is van jou lewe. Dan sal jy in staat wees om te getuig van God se goedheid, net soos Job het toe hy met vertroue gesê het, “Al wil Hy my ombring – ek hoop op Hom” (Job 13:15).