DIE BELOFTE VAN KRAG IN CHRISTUS

David Wilkerson (1931-2011)

Toe Jesus sy laaste ure saam met sy dissipels deurgebring het, het Hy vir hulle gesê, “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, alles wat julle die Vader sal vra in my Naam, sal Hy julle gee” (Johannes 16:23). Hy het verder vir hulle gesê, “Tot nou toe het julle niks in my Naam gevra nie. Bid en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees” (16:24).

Wat ‘n ontsaglike stelling! Toe hierdie toneel plaasgevind het, het Christus sy volgelinge gewaarsku dat Hy weggaan en Hy sou hulle vir ‘n tyd lank nie sien nie. In dieselfde asem, het Hy hulle egter verseker dat hulle toegang gehad het tot elke seëning van die hemel. Al wat hulle moes doen, was om te vra in sy Naam.

Beskou ons al die krag en hulpbronne wat ons tans het in Christus, dan het die meeste gelowiges nog amper niks in sy Naam gevra nie. Christus se woorde aan sy dissipels het my veroordeel: “Tot nou toe het julle niks in my Naam gevra nie.” Dit is wat ek glo God se hart meer bedroef as al die sondes van die vlees tesame. Ons Here is bedroef oor die toenemende gebrek aan geloof aan sy beloftes – deur die toenemende twyfel dat Hy gebed verhoor en deur ‘n volk wat minder en minder aanspraak maak op die krag wat in Christus is.

Die wêreld het nog nooit ‘n nodiger tyd geken nie. Tog is daar minder smeking as ooit in die Naam van Jesus, en soos die dae verbygaan, vra Christene minder en minder van die Here. Hulle is bang om in geloof uit te stap, dikwels weens ongeloof.

Dit is wonderlik hoe getrou die Kerk verwys na Christus se Naam. Ons prys dit, seën dit, ons sing oor die “wonderwerkende krag in die geseënde Naam van die Here.” Maar ons eien die krag wat in sy Naam is nie toe nie.

Geliefde, ons moet ons posisie in Christus inneem en God se Woord in besit neem. Sy beloftes is die wapens van ons oorlogvoering en dit sal magtig in ons hande word wanneer ons dit opneem.