DIE BELOFTE VAN JESUS SE WEDERKOMS

David Wilkerson (1931-2011)

In vergange dae was “Jesus kom weer!” amper op elke Sondag se kerkbyeenkoms verkondig. Evangeliste het roerende boodskappe gebring oor die hoop van Jesus se wederkoms en daar was ‘n goddelike ontsag en verwagting in die harte van sy volgelinge. Vandag egter, word die koms van die Here selde oor gepraat en ongelukkig lyk dit of slegs ‘n paar regverdige dienaars smag na sy verskyning.

Die Bybel waarsku oor hierdie gebrek aan waaksaamheid oor Jesus se wederkoms. “Dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel en sê: Waar is die belofte van sy wederkoms? Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af” (2 Petrus 3:3-4).

Daar is diegene wat die boodskap van Christus se wederkoms bespot, maar dit is waarskynlik uit vrees – vrees om voor God te moet staan en rekenskap gee. Sulke spotters is onder ons vandag, “Moenie bekommerd wees nie, Christus kom nie. Die son sal môre op skedule opkom, die seisoene sal kom en gaan. Al die waarskuwings wat ons in die verlede gehoor het, het nie gebeur nie, so geniet jouself en wees gelukkig.” God se wette word bespot in hoë plekke en daar is heersende wetteloosheid in die land. Ons lees van gruweldade wat oral op die wêreld gepleeg word en sien toenemende gevalle van dodelike nuwe siektes, terwyl natuurlike rampe toeneem in getal en intensiteit. Dit behoort duidelik te wees vir selfs die goddelose dat die Here alles skud wat geskud kan word.

In Matthéüs, sê Jesus, “Daarom moet julle ook gereed wees, want die Seun van die mens kom op ‘n uur dat julle dit nie verwag nie” (Matthéüs 24:40-44). Jesus se koms behoort jou nie te ontstel nie, dit behoort jou opgewonde te maak! As jy werklik iemand liefhet, wil jy naby daardie persoon wees, reg? Dink aan hoe dit sal wees wanneer Jesus jou naam uitroep.

Te midde van hierdie tye, sê Jesus, “Ja, Ek kom gou,” en die Bruid van Christus antwoord, “Amen, ja kom, Here Jesus” (sien Openbaring 22:20). Dit is ons geseënde hoop!