DIE BELOFTE

David Wilkerson

“Moenie vir hulle bang wees nie” (Deutronómium 7:18). Vir Israel, het “hulle” die masiewe, goed bewapende heiden nasies wat hulle moes trotseer, verteenwoordig. Vir ons vandag, verteenwoordig “hulle” elke probleem, teenspoed en oorweldigende moeilikheid wat ons in die lewe moet trotseer.

God vertel ons dat ons nie moet vrees nie! En omdat Hy so sê, is geen ander verduideliking nodig nie. Hy is almagtig en totaal en al bewus van die sataniese vestings wat ons moet trotseer. Hy weet van elke beproewing en versoeking waarmee Satan ons mee kan teister. En steeds beveel Hy ons, “Jy sal nie een van daardie dinge vrees nie!”

Abraham het in ‘n vreemde land gewoon, omring deur magtige konings en hy het nie geweet waar hy op die ou end sou beland nie. Tog, God se eerste woorde aan hom was, “Moenie bang wees nie, Abram, Ek beskerm jou! Jou beloning sal baie groot wees” (Genesis 15:1).

 Die betekenis van hierdie vers is, “Ek sal `n muur om jou wees, jou beskerm en jou verdedig.” In wese sê God vir Abraham, “Jy sal swaarkry beleef maar Ek sal jou deur dit alles heen beskerm.” Abraham het gehoor gegee deur God se woord aan hom te glo: “Abram het toe in die Here geglo, en die Here het dit goedgevind dat Abram so volgens die wil van die Here gehandel het” (vers 6).

 Abraham se seun Isak het ook in ‘n vyandige omgewing gebly, omring deur Filistyne wat hom gehaat het, hom lastig geval het en hom van hulle land wou af hê. Die Woord sê dat elke keer as Isak ‘n put vir water gegrawe het, het die Filistyne dit weer toegegooi (sien Genesis 26:15).

Oral waar Isak gegaan het, het hy niks anders as twis beleef nie. ‘n Wolk van onsekerheid het oor hom gekom en hy het gewonder of hy dit ooit sou maak.  Maar God het vir Isak dieselfde woord gegee as vir Abraham: “Moenie bang wees nie, want Ek is by jou. Ek sal jou seën en jou 'n groot nageslag gee ter wille van my dienaar Abraham” (Genesis 26:24).

 Vandag, nes Isak, is ons kinders van Abraham en God maak dieselfde belofte aan ons: “En as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God” (Galásiërs 3:29).