Die Bedelaars is 'n Teken

Laat my met jou deel wat ek glo God my gewys het insake Sy oordele oor Amerika – oordele wat alreeds begin het. Onlangs, terwyl ek diep in gebed was, het hierdie woorde oor en oor in my gees weerklink: “Die bedelaars is ‘n teken! Die bedelaars is ‘n teken!”

Ek het gedink aan die meer as 60,000 hawelose mense, baie van hulle bedelaars, wat die strate deurkruis. As jy by ‘n besige kruising in New York Stad stop, wemel die bedelaars om die motor, blokkeer die pad met borde, vee jou voorruit met vuil lappe en bedel vir kleingeld. Baie word toenemend strydlustig, dreigend en gewelddadig.

Duisende van hierdie bedelaars is bloot kinders – tieners wat in verlate motors, trokke en bouvallige, rot-besmette geboue slaap. Hulle is verlore in ‘n dwelmmal wêreld van crack en VIGS. Talle verkoop hulle liggame vir ‘n dosis dwelms en bied seksuele gunste aan vir so min as 25 sent!

As jy in hulle oë en gesonke gesigte kyk, sien jy ‘n beeld van die hel. Sommige smag na die dood om hulle tronke van dwelms te ontvlug. Ander is reeds sterwend, verteer met VIGS, chlamydia, tering, longtontsteking en allerhande soorte kanker.

Armoede alleen het hulle nie na die strate gedryf nie – dit is ook die werk van ‘n demoniese gees! ‘n Perfekte voorbeeld hiervan is Billi Boggs, ‘n hawelose vrou van Manhattan. Sy het internasionale hoofberigte gehaal deur geld vir welsyn in te samel en alle soorte skuiling te weier. Selfs wanneer sy geld gegee word, verkies sy die strate. Tans, sit sy op ‘n duikwegtraliewerk en vloek verbygangers – waansinnig en steeds aan die bedel.

Hierdie stad en al sy welsynskantore is verstom. “Wat gaan aan?” vra hulle. “Waarom hierdie skielike verskyning van ‘n leër van hopelose bedelaars in die laaste twee jaar?”

Tydens hierdie oordeel wat oor Israel gekom het, het Jesaja uitgeroep, “Jou kinders het onmagtig gelê by al die staathoeke soos ‘n eland in ‘n vangkuil, vol van die grimmigheid van die HERE, van die dreiging van jou God” (Jesaja 51:20).

Dit is ‘n goddelike bestraffing – ‘n getuie van die volle woede van God. Die jonges lê in die strate as ‘n sigbare teken wat nie geïgnoreer kan word nie! Tydens die mees voorspoedige tyd in Amerikaanse geskiedenis – ‘n tydperk van ons laagste werkloosheidsyfer – het ‘n leër van hawelose bedelaars ontstaan. Hoe waar is die volgende: “Geregtigheid verhoog ‘n volk, maar die sonde is ‘n skandvlek vir die nasies” (Spreuke 14:34).

Voor ek enigsins voortgaan met die feit dat hierdie bedelaars ‘n teken van oordeel is, laat my jou uit die Skrif aantoon hoe ernstig God daaroor is om Sy waarskuwings aan ons mee te deel.

Ou Testament Tekens

Die Ou Testament is vol lewendig geïllustreerde preke deur die profete. Byvoorbeeld, God het vir Jesaja gesê om Egipte en Ethiopië te waarsku dat Assirië binnekort sou aanval en hulle gevange sou neem. Om dit te illustreer, moes Jesaja kaalvoet loop vir drie jaar, geklee slegs in ‘n onderkleed. “Daarop het die HERE gesê: Soos my kneg Jesaja naak en kaalvoet geloop het, drie jaar lank, as teken en sinnebeeld met betrekking tot Egipte en Kus” (Jesaja 20:3).

Op ‘n ander geleentheid, het God duidelik voorspel wat Hy aan ‘n ongehoorsame Juda sou doen: “En om al jou gruwels ontwil sal Ek aan jou doen wat Ek nooit gedoen het nie, en wat Ek só nooit weer sal doen nie” (Esegiël 5:9). Jerusalem sou omsingel en beleër word: Een derde van die mense sou sterf deur pes of hongersnood; een derde sou deur die swaard val; een derde sou na al die windstreke verstrooi word.

So het God vir hulle ‘n teken gegee, ‘n geïllustreerde waarskuwing. Hy het vir Esegiël gesê om te lê voor die mense van die stad vir 390 dae aan sy linkerkant en 40 dae aan sy regterkant. Hy moes ‘n kleitablet neem en daarop ‘n kaart van Jerusalem teken. “Maak dan ‘n beleëring daarteen en bou forte daarteen en gooi ‘n wal daarteen op en stel laers daarteen op en lê stormramme daarteen aan rondom. Verder, neem jy vir jou ‘n ysterpan en sit dit as ‘n ystermuur tussen jou en die stad...’n Teken is dit vir die huis van Israel” (Esegiël 4:2-3).

Die skares het gewonder of die profeet mal geword het! Hy was besig om oorlog te speel! Speelgoedsoldate, speelgoedwapens – almal gerig teen die stad. Watter soort teken was dit?

Toe het Esegiël sy hare afgeskeur en dit in drie dele verdeel: Een derde het hy verbrand, een derde het hy met ‘n swaard getref en een derde het hy in die wind gestrooi.

God het in wese gesê, “Jy wil nie luister na my profesië en my waarskuwings nie. So, kyk na hierdie toonbeeld, so eenvoudig dat ‘n kind dit kan verstaan: Hierdie speelgoed wapens verteenwoordig ‘n regte leër. Daardie verdeelde en vernietigde hare spreek van wat met die massa’s sal gebeur. Die ysterplaat is julle harde harte – wat, soos yster, onbeweeglik is en tussen My profeet se waarskuwings aan julle staan.” God het ‘n teken aan Jerusalem gegee!

Op ‘n ander geleentheid egter, het die Here weer die oordeel wat oor sy volk kom, geïllustreer. Amper met veragting, het Hy gesê, “Want hulle is ‘n wederstrewige huis” (Esegiël 12:3). Hierdie keer het die Here Esegiël beveel om al sy besittings na die straat te verskuif en gereed te maak om daaruit te trek – om ‘n banneling te word. Teen skemer het hy die bagasie op sy skouers gelig en na die muur geloop. Hy moes die volgende doen: “Breek vir jou ‘n gat in ‘n muur voor hulle oë, en bring dit daarheen” (Esegiël 12:5).

Toe toeskouers die betekenis van die profeet se vreemde dade vra, het Esegiël geantwoord, “Sê: Ek is julle sinnebeeld; soos ek gedoen het, so sal met hulle gedoen word: in ballingskap, in gevangenskap sal hulle gaan” (Esegiël 12:11). So, ons sien dat God wel vir Sy volk tekens van oordeel gestuur het, soos Esegiël die dinge wat binnekort sou gebeur, uitgebeeld het.

Jesus het gesê, “’n Slegte en owerspelige geslag soek na ‘n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona” (Matthéüs 12:39). Dit was gesê aan skrifgeleerdes en Fariseërs wat ‘n teken van Christus wou hê om Sy Godheid te bewys. Geen teken sou egter gegee word om Sy Godheid te bevestig nie. Die teken wat aan alle mense gegee was, was die opstanding; geen ander teken van Sy Godheid is nodig nie.

Tog, Jesus het die mense aanbeveel om die tekens van die tye te onderskei. “Geveinsdes, julle weet wel om die voorkoms van die lug te onderskei, en kan julle nie die tekens van die tye onderskei nie?” (Matthéüs 16:3). Jesus het ook gewaarsku: “En daar sal groot aardbewings op verskillende plekke wees en hongersnode en pessiektes; en daar sal verskriklike dinge en groot tekens van die hemel kom...En daar sal tekens wees aan son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid” (Lukas 21:11,25). “En Ek sal wonders gee bo in die hemel en tekens onder op die aarde” (Handelinge 2:19).

Die groeiende leër bedelaars is een van die Here se geïllustreerde preke.

Die bedelaars is groot en ‘n duidelike teken van die naderende oordeel. Selfs al het die regering hulle almal toegesluit – hulle stilgemaak in instellings – sou ‘n ander, groter leër binne dae opstaan! En nou is daar selfs bababedelaars: kinderverslaafdes van by die duisende!

Niemand het al behoorlik bereken hoe wydverspreid die gebruik van crack is nie. Ons regering blyk blind en heeltemal onkundig te wees oor die gevare. Drie jaar gelede, was die dwelm onbekend. Vandag oorval dit miljoene – van die ouderdom van vyf jaar en op. Selfs korporatiewe hoofde dwaal nou in die strate as bedelaars, vernietig deur crack in net ‘n paar maande se tyd.

In hierdie oorlog, is geen koeëls, geen tenks, vliegtuie of bomme nodig nie. Net klein houertjies – miljoene daarvan – vol klein, wit cracksteentjies: ‘n skrikwekkende teken van God se oordeel!

Laat my vir jou illustreer wat gebeur wanneer ‘n land weier om die tekens van die tye te onderskei:

In die boek Klaagliedere, het al die geprofeteerde katastrofes reeds plaasgevind. Jerusalem is ingeneem deur die plunderende Chaldeërs, wat gelei het tot hongersnood en uiteindelik die vewoesting van Jerusalem en die tempel. Alles het gebeur net soos die profete gewaarsku het, en die volk is in ballingskap weggevoer.

Jeremia het al hierdie verskriklike ellendes opgeteken – maar hy gaan nie rond en sê, “Ek het julle gesê!” nie. Nee! Hy ween en treur en roep uit tot God om die volk barmhartig te wees. Steeds het Jeremia die plig gehad om reguit te wees: “Die HERE het gedoen wat Hy hom voorgeneem het, sy woord volbring wat Hy sedert die dae van die voortyd beveel het; Hy het sonder verskoning afgebreek en die vyand oor jou bly gemaak” (Klaagliedere 2:17). Nie een woord van God se profesieë was onvervul nie. En hulle sal nie onvervul wees aangaande Sy waarskuwing aan Amerika nie.

Jy sien, Jeremia het in wese gesê dat die vloeke wat God laat neerdaal het, was slegs dié waarteen Moses die volk voorheen gewaarsku het in Deuteronómium: “Die vreemdeling wat by jou is, sal hoër en hoër oor jou opklim; en jý sal laer en laer afsak” (Deuteronómium 28:43-44). In vervulling van daardie profesie, sê Jeremia, “Haar teëstanders het die oorhand gekry, haar vyande lewe rustig: want die HERE het haar droefheid aangedoen vanweë die menigte van haar oortredinge; haar kinders het in gevangenskap gegaan voor die teëstander uit” (Klaagliedere 1:5).

Jy hoef nie ‘n mistieke of siener te wees om te weet wat God op die punt is om oor Amerika te bring nie – dit staan alles in Deuteronómium 28. Die vloeke wat Moses geprofeteer het, het Israel laat val, en dit sal ook Amerika laat val!

Een van die eerste tekens van oordeel: die jeug wat op die strate gewerp word

Wanneer oordeel oor ‘n volk kom, word die jongmense verpletter (sien Klaagliedere 1:15). “My jonkvroue en jongmanne het in gevangenskap gegaan” (Klaagliedere 1:18); “Buitekant het die swaard berowe, binnekant is dit soos die pes” (Klaagliedere 1:10). En weer, “My kinders is verbyster, omdat die vyand die oorhand het” (Klaagliedere 1:16).

In Amerika heers die vyand oor ons kinders deur die plaag van dwelms. Hoe kan enigeen sê dat al hierdie mense wat in die strate lê, beide jonk en oud, geen profetiese betekenis vir ons het nie? Hoe verkeerd is die wat dit glo! “Op die grond lê jonk en oud in die strate” (Klaagliedere 2:20). Die profeet roep uit, “Kyk wat met ons klein kindertjies gebeur!” Hy sê, “Hef jou hande op na Hom, ter wille van die lewe van jou kinders wat versmag van honger by die hoeke van al die strate” (Klaagliedere 2:19).

Jeremia het al hierdie oordele teruggespeur na verskriklike veranderinge wat oor die volk gekom het. Verskriklike agteruitgang het ontstaan en ‘n morele modderstorting het plaasgevind. Die mense het geval van ‘n sedelike regverdige samelewing, na ongelooflike dieptes van agteruitgang. “Ag, hoe is die goud verdonker, die goeie goud verander, die heilige stene weggegooi op die hoek van al die strate” (Klaagliedere 4:1).

Hier praat die profeet van die veranderinge onder die mense en die instellings van samelewing – sowel as die agteruitgang van die heiligdom. Die kosbare stene van die mense, eens sedelik rein soos goud, lê nou op die kruisings soos gebreekte potte.

“Hulle wat lekkernye geëet het, het versmag op die strate; die wat op purper gedra is, het die ashope omarm” (Klaagliedere 4:5). Die profeet ween oor hierdie jongmans en vroue, verlore in die strate, wat loop soos geraamtes met gesonke wange en op hulle voete sterf. “Maar hulle voorkoms het donkerder as swartsel geword, hulle is nie herken op die strate nie; hulle vel kleef aan hul gebeente, dit het droog geword soos hout...Blind het hulle deur die strate gewaggel, met bloed bevlek, sodat ‘n mens hulle klere nie kon aanraak nie” (Klaagliedere 4:8,14). “Nog altyddeur smag ons oë tevergeefs na hulp vir ons; op ons wagpos sien ons met verwagting uit na ‘n nasie wat nie sal help nie. Hulle het jag gemaak op ons voetstappe, sodat ons op ons pleine nie kon loop nie; ons einde het nader gekom” (Klaagliedere 4:17-18).

Soos die volk se einde nader gekom het, het oordeel versnel. Die samelewing het ‘n punt bereik waar niemand oplossings gehad het nie, en veranderinge het steeds vinnig toegeneem. Die strate het vol geword van honger, arm geraamtes – voormalig sedelike, welgestelde jeug – wat nou tussen die rommel rondkrap op soek na kos. Hierdie woeste bedelaars het die res van die samelewing gejag, en die strate onveilig gemaak op om te loop. Is dit nie Amerika vandag nie? Kyk weer na die jong bedelaars. Wat sien jy? Ek sien ‘n teken van God, wat ons waarsku en by ons pleit om notisie te neem: Hierdie toonbeeld van ‘n bedelaar is Amerika onder oordeel. Hy is ‘n profetiese beeld van wat van Amerika word – en sal wees: ‘n verlore, dwelmmal volk wat waansinning word, verwerp deur die ryk lande wat hulleself bokant ons verhef het deur ons rykdom te tap. God sê in wese, “Kyk na die bedelaars! Kyk na hulle gesigte! Dit is die toekoms van Amerika sonder bekering.”

The New York Daily News het onlangs ‘n spotprent gehad waarin kinders uitgebeeld was waar hulle na die Amerikaanse vlag kyk, terwyl hulle helms, skilde en ‘n volle wapenrusting dra. Hulle het belowe, “Een nasie, onder beleg, onverdedigbaar met vryheid en AK-47’s vir almal...”

Hoe het dit gebeur met ons eens regverdige nasie? Wie is te blameer vir ons ondergang?

Jeremia het die profete en predikers geblameer vir die ineenstorting van Israel.

“Dit was oor die sondes van haar profete, die ongeregtighede van haar priesters wat daar binne-in die bloed van die regverdiges vergiet het” (Klaagliedere 4:13). Vroeër sê Jeremia vir ons, “Die profete profeteer vals, en aan hulle sy oefen die priesters mag uit, en my volk wil dit graag so hê. Maar wat sal julle doen aan die einde daarvan?” (Jeremia 5:31).

Die predikers vertel die Kerk “alles is wel” omdat hulle “onregverdige wins maak” (Spreuke 1:19). Hulle het gesondig deur nie die waarheid te praat nie, deur nie die volk te waarsku nie – deur Christene aan die slaap toe sus op die randjie van oordeel!

Een jongman het my hart gebreek toe hy in ons Vrydagaand gebedsbyeenkoms gebid het: “Liewe Here, ek het dit genoem, ek het dit opgeëis, ek het dit geraam – maar toe die storm my lewe tref, was ek nie gereed nie. Positiewe belydenis het nie gewerk nie, en ek het skipbreuk gely. My herder het vir my gelieg. Ek was mislei!

“O God! Al my vriende is steeds in daardie kerk, mislei, sonder dat hulle dit weet. Hulle hou daarvan! Maar wanneer die storms kom, sal hulle geen wortels of fondament hê nie. Hulle sal val!”

Die “vrede en voorspoed” predikers het ook Jeremia bespot. Hulle het sy boodskap en profesieë op twee maniere ondermyn, deur in wese te sê, “Ons hoor dit al jarelank, maar niks gebeur nie. In plaas daarvan, is ons voorspoedig! Dinge het beter geword, nie slegter nie!” En, “Ja, dit mag gebeur – en sal waarskynlik – maar dit is nog ver weg, iewers in die toekoms.”

Esegiël het hierdie verskonings aangespreek: “En die woord van die Here het tot my gekom en gesê: Mensekind, wat is dit vir ’n spreekwoord wat julle het in die land van Israel, naamlik: Die dae gaan voort, en van al die gesigte kom niks nie. Daarom, sê vir hulle: So spreek die Here HERE: Ek maak ‘n einde aan hierdie spreekwoord, sodat hulle dit nie meer as spreekwoord in Israel sal gebruik nie. Maar sê vir hulle: Die dae is naby, en die woord van elke gesig. Want daar sal geen bedrieglike gesig of vleiende waarseêry in die huis van Israel meer wees nie...Daarom, sê vir hulle: So spreek die Here HERE: Geeneen van my woorde sal meer uitgestel word nie; wat Ek as woord spreek, dit sal gebeur, spreek die Here HERE” (Esegiël 12:21-2,28).

Met ander woorde – God se oordele staan nou voor die deur!

Amerika gaan ‘n oordeel baie erger as Sodom s’n beleef!

“Want die ongeregtigheid van die dogter van my volk was groter as die sonde van Sodom wat soos in ‘n oomblik omgekeer is, sonder dat iemand die hand daaraan geslaan het” Klaagliedere 4:6).

Ek gaan ‘n stelling maak wat sommige van julle sal kwaad maak – maar dit is waar, gebaseer op wat God hier sê: EK GLO DAT AS ONS GEOORDEEL MOET WORD, SAL DIE MEES BARMHARTIGE DING WAT GOD KAN DOEN, WEES OM DIE SOWJET UNIE TOE TE LAAT OM SY BOMME OP ONS TE LAAT NEERREËN – OM ONS UIT TE WIS SOOS HY MET SODOM GEDOEN HET, IN ‘N OOMBLIK SE TYD!

“Die wat deur die swaard verslaan is, is gelukkiger as die wat deur die honger verslaan is...Die hande van teerhartige vroue het hulle eie kinders gekook; dit het hulle voedsel geword in die verbreking van die dogter van my volk” (Klaagliedere 4:9-10).

Ons praat dikwels daarvan dat God ons oordeel soos Sodom. Geliefde, daardie oordeel was genadig in vergelyking met wat met Jerusalem gebeur het! Sodom het geen hongersnood, geen moeders wat hulle eie baba’s geëet het, geen vel-en-been bedelaars wat rommel eet – geen generasie jeug wat stadig sterf, gemartel deur sonde, geteister deur siekte – gehad nie. Jerusalem was verneder, uitgehonger, verbrand, uitgeteer, geteister, geboei en in die tronk gegooi.

God self het Sodom binne ‘n oomblik vernietig, waar Israel oorgegee was aan die hande van goddelose mense. En Amerika se oordeel is aan die hande van Satan: “Wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het” (Openbaring 12:12).

VIGS is nog ‘n teken vir Amerika – ‘n stadige, folterende dood wat spreek van ons verlies aan immuniteit, ons vatbaarheid vir elke soort sedeloosheid. Is dit net hoorsê of blote feite dat binne ‘n paar jaar, die toenemende getalle VIGS pasiënte ons hospitaalstelsel bankrot sal maak?

Is dit net skinderstories dat ons tronke nou werk teen 110 persent kapasiteit, en dat daar binnekort geen tronkspasie meer oor sal wees nie?

Is dit net ‘n gerug dat duisende kinders gemolesteer word? Daardie wilde, monsteragtige mans wat vroulike baba’s verkrag?

Gaan crack net “verdwyn”? Wat van die drie-jaar-oue kind wat in Brooklyn opgetel en gebruik is as ‘n skild tydens ‘n onlangse vuurwapengeveg in ‘n dwelmoorlog – en doodgeskiet is? Wat van daardie ses tot tien-jaar-oue dwelmsmokkelaars – insluitend die New York Stad seun wat gevang was by die skool met 400 houertjies crack in papiersakke, alles te koop?

Kan hierdie dinge net een of ander verbygaande nagmerrie genoem word? Is die rinkinkende moord, verkragting, roof, pornografie, gierigheid, geweld en perversie net nog ‘n Amerikaanse kulturele fase van verbygaande aard?

Nooit! Ons sien nou die algehele ineenstorting van ons poorte en mure – ‘n uitbraak van goddelike oordeel teen ‘n nasie wat God bedroef het.

Maar wat van die Kerk? Wat van die heilige, bekeerde oorblyfsel? Wat sal met God se kinders gebeur wanneer die oordeel in volle drif kom? Hoe sal die uitverkorenes oorleef?

Ek het God hieroor gesoek. Ek het Hom gevra, “Here, sal ek hê wat dit verg om lyding en swaarkry te verduur, met vrees wat van oral af indring? Ek voel so swak. Ek wil nie misluk soos so baie ander het nie!”

Sy antwoord aan my was dit: “David, jy het nie wat dit verg nie – nie nou al nie! Maar wanneer dit in alle erns uitbreek, sal jy al die genade en krag hê wat jy nodig sal kry om seëvierend daardeur te gaan. Wanneer jy dit nodig het, sal Ek dit voorsien!”

As jy jouself gedurende voorspoed verneder, jou sonde bely en jou tot die Here bekeer met jou hele hart – dan sal jy in moeilike tye ‘n dubbele deel krag van God ontvang. Die Christus wat jou in voorspoed geroep het, sal jou bewaar in tye van oordeel.

Tydens oordeel, sal God se kinders juig oor Sy getrouheid!

Terwyl Hy die goddeloses oordeel, word die Here self ons skuilplek. “Roep My aan die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp” (Psalm 50:15). “En Hy self sal die wêreld oordeel in geregtigheid en die volke vonnis met reg. So is die HERE dan ‘n rotsvesting vir die verdrukte, ‘n rotsvesting in tye van benoudheid. En hulle wat u Naam ken, sal op U vertrou, omdat U die wat U soek, nie verlaat nie, o HERE!” (Psalm 9:9-11).

Wat daarvan as ons moet tronk toe gaan? ‘n Geliefde Sjinese man, Pastoor Gu, het meer as 20 jaar in ‘n Kommunistiese tronk deurgebring sonder ‘n boek of ‘n Bybel – maar Jesus het daagliks aan hom verskyn en hom die Woord geleer! En die tronk is waar die Apostel Paulus sy sendbriewe geskryf het!

Wat as ons ons werk, ons huise of woonstelle verloor? Dan sal ons almal op ‘n Heilige Gees welsyn gaan en Jesus sal ons maatskaplike werker wees! Jesus het gesê, “Moenie julle kwel oor jul lewe – wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor jul liggaam – wat julle sal aantrek nie...Kyk na die voëls van die hemel...en tog voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?” (Matthéüs 6:25-26).

Ons wil lewe soos Israel, op wonderwerke en manna. Ons sal in vrede gaan lê, en ons slaap sal soet wees. Ons sal evangeliste word soos die Twaalf en die vroeë Kerk. Ons sal met mekaar deel wat ons het – en dit sal heerlik wees!

Vir 40 jaar, het ons God honderde duisende van Sy volk in die woestyn onderhou. Gedurende daardie lang tydperk, het hulle geen werk, geen inkomste, geen winkels, geen inkopiesentrums, geen karre, geen huise of woonstelle, geen bankrekeninge, geen nuwe klere, geen aandele, geen lugversorging, geen oonde, geen elektrisiteit, geen binnenshuise krane, geen opgegaarde kos, geen wapens, geen bergskuilings, geen dokters, geen hospitale en geen medisyne gehad nie.

Hulle was heeltyd omring deur slange, wilde diere en wrede vyande, voortdurend onderwerp aan uiterste hitte en koue en waterskaarstes – en al wat hulle as skuilplekke gehad het, was hulle lendelam tente!

God het hulle egter in Sy arms gedra soos klein baba’tjies. Moses het gesê, “Want die HERE jou God het jou geseën in al die werk van jou hand; Hy ken jou trek deur hierdie groot woestyn; nou veertig jaar lank was die HERE jou God met jou; geen ding het jou ontbreek nie” (Deuteronómium 2:7). En aangaande jou kinders, Hy het belowe, “En julle kinders waarvan julle gesê het: Hulle sal ‘n buit word – dié sal Ek inbring en dié sal die land leer ken” (Númeri 14:31).

Hy is dieselfde vandag as Wie Hy toe was – ‘n getroue God!