Die Aanraking van God

David Wilkerson

Gedurende die herlewingsdae van my jeug, was daar ‘n frase wat dikwels gebruik is om sekere Christene te beskryf: “Hy het God se aanraking op hom." Of, “Sy is regtig deur God aangeraak.”

Hierdie spesifieke heiliges was maklik herkenbaar, omdat hulle buitengewoon was, selfs onder diegene wat die Here gevolg het. Hulle was aan die brand, heeltemal oorgegee aan God, losgemaak van die dinge van die wêreld. Hulle het aan God behoort, was gebroke en bedroef oor verlore siele. En jy het gewéét: Hulle het ‘n aanraking van God op hulle lewens!

In daardie dae, het ons wat bekend was as “kampbyeenkomste” gehad. Almal het gretig uitgesien na kampbyeenkomstyd – drie weke wat deurgebring is in tente en ‘n groot, ou, houttabernakel.

Dienste was gehou in die oggend, middag en aand. Gewoonlik het ‘n onbekende prediker in die oggend gepraat, en in die middae het ‘n beter bekende spreker gepraat. In die aande het die heel bekendste evangelis gepreek.  Mense het na die aandbyeenkomste gestroom om hierdie bekende spreker te hoor.

Amper altyd was die man welsprekend – ervare, intelligent, vurig, geleerd en goed ontvang onder die mense. Na die byeenkoms, sou mense rondom die versnaperingsgebou saamdrom, hom gelukwens en vir hom sê hoe kragtig sy preek was.

Maar na twee of drie dae, sou die kamp gegons het van opgewondenheid oor die oggendbyeenkomste. Dit het geblyk dat een of ander jong, onbekende pastoor van ‘n klein kerkie dinge omgeroer het – en die vuur het geval! Mense was nie in staat om dwarsdeur die byeenkoms te kom nie. In plaas daarvan, het hulle na die altaargebied gehardloop omdat hulle onder veroordeling en tot bekering gekom het.

Uiteindelik sou dinge so opwindend word, dat selfs die hoofspreker moes kom kyk waaroor al die bohaai was. Maar gewoonlik sou hy die spreker nie indrukwekkend vind nie. Die jongman was dikwels ongeleerd; hy het woorde verkeerd uitgespreek en niks vreeslik diepsinnig gesê nie.

Maar al die ander wat hom gehoor het, het geweet hy was anders. Hy het iets gehad wat hulle aangeraak het – en die welbekende evangelis sou wonder, “Wat het hierdie jongman?” Dit was die aanraking van God op sy lewe!

Hy het dae alleen saam met God deurgebring. Hy het met gesag gepraat. Hy het die hart van Jesus oopgemaak deur die Bybel. Sy woorde was soos vurige kole. Niemand het hom op die rug geklop vir sy boodskappe nie, en niemand wou met hom sosiaal verkeer nie. Dit was omdat hulle regtig nie die man gesien praat het nie. In plaas daarvan, het hulle die byeenkomste verlaat en gesê, “Kom luister na ‘n man wat deur God aangeraak is.”

Predikers en evangeliste was nie die enigstes wat ek gesien het gekenmerk was deur God se aanraking nie. Daar was ook gemeentelede – gewone hardwerkende boere, huisvroue, oupa’s en ouma’s. ‘n Oupa met die aanraking van God was gewoonlik na verwys as “Pappa.” Ek onthou Pappa Dodge, Pappa Myers, Pappa Smith.

Hulle was eenvoudige mense wie se lewens oorgegee was aan God, en hulle het altyd ‘n woord uit die hemel gehad. Hulle was bemoedigers van die prediker – en dikwels het hulle meer geweet as die prediker. Jy het geweet hulle was afgesonder met die Here, en dat Hy Sy hand op hulle gehad het.

Die ouma’s was “Moeder” genoem: Moeder Greenaway, Moeder Baily. Hulle was gebedskrygers, voorbidders, liefhebbers van verlore siele! Hulle het gewoonlik die kerk binnegekom deur saggies te bid en voorbidding te doen vir besoeke na hospitaal en verplegingstehuise. Hulle het vir alles gebid. En hulle was deur die jonger vroue uitgekies vir geestelike raad – omdat hulle ook “deur God aangeraak was.”

Die profeet Daniël was ‘n man deur God aangeraak.

Dikwels as ons die lewens van die mense soos Daniël bestudeer, raak ons oorweldig. Ons dink, “Dis geen wonder hy het God se aanraking gehad nie. Hy was gedissiplineerd, dapper, en besonders begaafd. Hy was nie ‘n gewone gelowige soos ek nie. Hoe kan sy lewe vir my ‘n voorbeeld wees?”

Maar die Bybel sê al die Ou Testament persoonlikhede was onderwerp aan soortgelyke hartstogte as ons. Hulle was almal mense en het die swakhede van die menslike toestand vertoon. Nee, Daniël is nie ‘n fiktiewe man nie – en die boek Daniël is nie ‘n fabel oor vuuroonde en ‘n leeukuil nie. Hierdie man is ons voorbeeld. Sy storie is bedoel om ons te leer hoe om God aan te raak – en deur Hom aangeraak te word.

Daniël verteenwoordig God se heilige oorblyfsel in ‘n bose tyd. En sy gevangenskap in Babel illustreer ons huidige stryd hier in die hedendaagse Babel. Daniël wys vir ons vandag hoe om aan te hou om God te soek, totdat Sy hand ook op ons is.

Die boek Daniël sê vir my drie dinge:

  • As Daniël getrou aan God kan bly in ‘n dag van afvalligheid en afgodery, is dit moontlik vir ons vandag, maak nie saak hoe goddeloos die tye word nie.
  • As Daniël nie net sy geloof kon behou nie, maar so verdiep in die Here geword het, dat Hy afgekom en hom aangeraak het, is dit ook vir ons moontlik vandag.
  • Dieselfde God wat Daniël aangeraak het, kan ons aanraak – as ons dieselfde prys sal betaal wat Daniël betaal het.

My vraag vir jou is, “Wil jy ‘n besondere wonderbaarlike aanraking van God op jou lewehê?” As jy net gered wil wees – net om daaglikse godsdiensoefeninge te hê en te doen wat reg is – dan is hierdie boodskap nie vir jou nie.

Maar as jy honger na meer van God – as jy wil hê dat HY van jou lewe besit neem – is daar ‘n prys. Beskou die prys wat Daniël betaal het:

1. Daniël het sy aangesig tot die Here gerig om die Here te soek met al sy krag en wil (sien Daniël 9:3-4).

Ons weet Daniël was reeds ‘n biddende man. Die Skrif sê hy het soggens, smiddags en saans gebid: “En hy het in sy bo-kamer vensters gehad wat oop was in die rigting van Jerusalem, en hy het drie maal op ‘n dag op sy knieë geval en gebid en lofprysinge uitgespreek voor sy God, net soos hy tevore gedoen het” (Daniël 6:11).

Selfs toe Daniël geweet het dit kon hom sy lewe kos – toe ander hom afgeluister en gereed was om hom te verkla – het hy aangehou bid. “Daarop het daardie manne aangestorm en Daniël gevind terwyl hy bid en voor sy God om genade smeek” (Daniël 6:12). Daniël was só getrou in sy toewyding aan God dat selfs die koning van hom gesê het, “Mag jou God wat jy gedurigdeur vereer, jou verlos” (Daniël 6:17).

Daniël se gebedslewe het hom verander in ‘n man van groot geloof. Toe hy in ‘n leeukuil laat afsak is, het hy nie ‘n enkele woord gerep nie. Maar sy geloof in God het die leeus se bekke toegesluit en van hulle kussings gemaak vir hom om op te slaap! Toe hy daar uitgekom het, het die koning Daniël se verlossing aan sy geloof toegeskryf: “So is Daniël uit die kuil opgetrek sonder dat daar ‘n letsel aan hom gevind is, omdat hy op sy God vertrou het” (Daniël 6:24).

Daniël se lewe was inderdaad geseënd. Hy het in die vrees van God en in openbaring gewandel. God het met hom gespreek oor die groot geheimenisse van die toekoms. Hy het in heiligheid gewandel, afgesonder met God, onaangeraak deur die afvalligheid en goddeloosheid rondom hom. Hy het ‘n hart gehad wat gesmag het na Jerusalem.

Jy mag moontlik sê, “Here, laat my net dít kry, en ek sal nooit meer wil hê nie.” Maar selfs dít was nie genoeg vir Daniël nie. Hy het ontdek daar was meer, baie meer. Hy kon sy oorblywende jare aanhou bid het drie keer ‘n dag, die Skrifte bestudeer het en ‘n stand ingeneem het vir God. Maar in plaas daarvan, het hy gesê, “My geslag is in ‘n krisis. En dit gaan meer as gewone, daalikse gebed verg!”

Jy sien, iets het met hierdie gebedsman gebeur. Hy het ‘n kopie van ‘n profesie gelees wat in Babel ingesmokkel was, geskryf deur ‘n tydgenoot genaamd Jeremia. En terwyl Daniël gelees het, het hy by ‘n gedeelte gekom wat van die bladsy moes afgespring het: “Want so sê die HERE: As eers sewentig jaar vir Babel verby is, sal Ek op julle ag gee een aan julle my goeie woord vervul om julle na hierdie plek [Jerusalem] terug te bring” (Jeremia 29:10).

‘n Waarheid het Daniël se hart getref: “God se tyd het aangebreek; Hy is gereed om ons te verlos en te red. Ons is op die presiese tyd in die geskiedenis vir ‘n heerlike uitstorting. Maar ons is nie gereed nie! Ons is lui, verwen, afgodies. Ons het hierdie groot belofte – maar niemand neem dit ernstig op nie!”

Vrees het Daniël se hart aangegryp, en hy het begin treur voor die Here. Niks daarna sou weer vir hom dieselfde wees nie. Hy het gou tot hierdie slotsom gekom: Die tye vereis meer as ‘n gewone toewyding, gewone aanbidding, of om bloot te doen wat reg is. Dit was tyd vir ‘n buitengewone, opofferende besit neem van God. Hy moes alles eenkant laat staan vir ‘n seisoen – om te vas, om hom te verneder, om sy hart daarop te rig om God te soek!

Waarom gebruik God ons gebede om Sy hart aan te raak? As Hy vir ons groot en kosbare beloftes gegee het, waarom kan ons dit nie net deur geloof opneem nie? Waarom moet ons ween, smeek, vas en treur vir iets wat reeds verseker is?

Dit is omdat God wil hê ons moet die heerlikheid van Sy goddelike oorsaak-en-gevolg ken! Hy sê, “Ek wil hê my kinders moet besef dat middernag binnekort op hulle sal wees. Waar is die jongmanne en -vroue, die oupa’s en ouma’s, die ouers wat sal opstaan en sê, “God, raak my aan – sonder my af om U aangesig te soek?”

Dit is egter waarom ons geen herlewing in Amerika het nie. Ons luister na God se oproep om te vas, te bid en Hom te soek – maar later staan ons terug omdat ons nie gewillig is om die prys te betaal nie.

Talle kere in die Bybel sê God, “Ek het My hart daarop gerig, maar julle wou nie...” Hy het iets voorberei en gesê, “Hier is it – kom nou en eis dit op!” Geliefde, Hy doen dit omdat Hy weet Hy kan Sy beloftes slegs toevertrou aan diegene wat dit waardig genoeg ag om dit in besit te neem!

Daniël het van God besit geneem asof die hele belofte afgehang het van sy gebed – asof daar in werklikheid geen belofte was nie. Hy het in gebed daaroor getreur asof hy nooit ‘n woord gehoor het van ‘n naderende verlossing nie. Hy het gevas en gebid met groter intensiteit as in sy hele gebedsleeftyd. Hy het in werklikheid meer gebid nadat die belofte gegee is. God het Israel belowe, “Sal Ek op julle ag gee...om julle na hierdie plek terug te bring...Dan sal julle My aanroep en heengaan en tot My bid, en Ek sal na julle luister” (Jeremia 29:10-12).

Nehemía het ook desperaat voor God geraak, hoewel hy gedink het hy het ‘n belofte van algehele oorwinning nog voor hy begin het: “En toe ek hierdie woorde hoor, het ek gesit en ween, en ek het dae lank getreur; en ek het gevas en gebid voor die aangesig van die God van die hemel” (Nehemía 1:4). Hy het nie rondgesit en gesê, “Prys God, die belofte is reg voor my” nie. Hy het voor God geween en getreur!

Esra het dieselfde heerlike beloftes van herstel en oorwinning gehad. Tog het hy steeds “sy hart daarop gerig om die wet van die HERE te ondersoek en te betrag” (Esra 7:10). God het vir Esra gesê, “Ek sal herstel....” Toe Esra egter die sonde en kompromie van Israel rondom hom gesien het, het hy nie bloot gesê, “God het dit gesê. Ek sal op Sy belofte staan totdat ek dit in vervulling sien kom” nie.

In plaas daarvan, het Esra gesê, “En toe ek dit hoor, het ek my kleed en my mantel geskeur en van die hare van my hoof en my baard uitgepluk en verslae neergesit...en terwyl ek my kleed en my mantel skeur, het ek op my knieë my gebuig en my hande uitgebrei na die Here my God en gesê: My God, ek voel te beskaamd en verleë om my aangesig tot U, my God, op te hef, want ons ongeregtighede het oor ons hoof gegroei, en ons skuld is hemelhoog” (Esra 9:3-6).

 Vandag het God gewone Christene nodig om hulle gereed te maak vir Sy uitstorting, om hulle harte daarop in te stel om die Here te soek soos Daniël. Ons sal nie besit neem van Sy beloofde, laaste-dag uitstorting nie, tensy ons ‘n tyd eenkant sit om God te soek asof alles daarvan afhang. Dit sal nie gebeur totdat God voorbidders oprig en vuur in hulle gebeente plaas nie!

Ons wíl egter nie die dissipline van afsondering met God hê nie. Ons wil nie slaap verloor nie, ons wil nie vas nie. Ons wil tevrede wees met die status quo.

God, maak ons wakker! Laat sommige van ons so honger word om deur U hand aangeraak te word, so aan die brand en belas met U wil en doel, dat U sal uitkom en U Gees magtig uitstort!

2. Daniël het alleen getreur, maar nie om selfsugtige redes nie. Sy las was nie vir homself nie, maar vir die huis van die God!

Jy kan die heiligheid in Daniël se stem hoor: “In daardie dae het ek, Daniël, drie volle weke getreur. Smaaklike spys het ek nie geëet en vleis en wyn het nie in my mond gekom nie; en ek het my glad nie gesalf nie...En ek, Daniël, alleen het die gesig gesien, maar die manne wat saam met my was, het die gesig nie gesien nie; nogtans het ’n groot skrik hulle oorval, sodat hulle gevlug het om hulle te verberg. Toe het ek alleen oorgebly” (Daniël 10:2-3, 7-8).

Daniël het alleen getreur. Dit is duidelik daar was ander soos Daniël wat hulle harte op God gerig het. Maar, soos só baie wat sê, “Ons gaan ‘n wonderlike tyd hê van gebed en God soek” – het hulle een vir een weggeval totdat daar net een man oor was: Daniël.

Geliefde, God roep jou om jou aangesig soos keisteen te maak. Ander mag wegval, maar jy moet voortgaan sonder hulle, omdat hulle nie die visie deel nie. “Toe het ek alleen oorgebly en hierdie groot gesig gesien, en geen krag het in my oorgebly nie, en my gesonde kleur het aan my verander en verdwyn, en ek het geen krag oorgehou nie” (Daniël 10:8).

Is jy gewillig om alleen verder te gaan soos Daniël? Kan jy sê, “Ek weet nie of iemand anders saam met my sal gaan nie – maar ek gaan my hart op God se aangesig rig, totdat ek Sy heerlikheid hierdie huis sien binnekom”?

Gelowiges, vandag sien die kerk nie alles wat God ons beloof het nie, omdat ons weifel! Ons wentel tussen warm en koud. Een dag het ons die las, en die volgende dag sê ons, “Waar is dit?” Jy mag moontlik aanspraak maak, “Ek wag vir die Heilige Gees om die las op my te plaas.” Maar die Bybel sê, “ moet jou hart voorberei!”

‘n Atleet wat vir die Olimpiese spele voorberei, offer agt, tien en twaalf ure per dag vir jare op. Hy eet spesiale kosse en werk nag en dag, span homself in en verduur erge pyn, alles om ‘n goue medalje te wen. As ‘n mens homself kan dissiplineer om ‘n kroon van vleeslike heerlikheid te kan verkry, waarom kan ons nie onsself dissiplineer vir ‘n kroon van hemelse goud nie?

Daniël het nie getreur oor een of ander persoonlike behoefte nie. Hy het tot God gebid om oor Sy kerk te skyn! “Hoor dan nou, onse God, na die gebed van u kneg en na sy smekinge, en laat ter wille van die HERE u aangesig skyn oor u heiligdom wat woes lê...Here, hoor! Here, vergeef! Here, merk op en doen dit, vertoef tog nie, om U ontwil...want u Naam is oor u stad en u volk uitgeroep” (Daniël 9:17,19).

Daniël het nie gebid en getreur vir meer openbaring en mag, of meer volheid van God vir homself nie. Liewer, hy het homself verneder en swartheid van hart bely. Hy wou hê God moes meer geëer word op aarde. Hy wou suiwer aanbidding en ‘n terugkeer na heiligheid hê. Sy getroue toewyding was heeltemal “om U ontwil, my God.” Hy het getreur oor Israel se sondes en gesê, “Dit is U huis, U heiligdom, die stad van heilige Jerusalem. God, herstel dit tot U heerlikheid!”

Probeer jouself in hierdie ongewone toneel indink: Daniël gaan alleen voort, treur en ween oor sonde. Hy bid totdat hy geen krag meer oor het nie. Uiteindelik val hy op die grond, sy gesig na onder, nie meer in staat om langer te bid of te ween, of selfs een woord uit te spreek nie. Dit was toe dat Jesus aan hom verskyn het (Daniël 10:5).

Ja, Jesus staan daar naby – Johannes het later op die eiland Patmos dieselfde visie gesien! Daniël was uitgeput toe die Here skielik nader kom: “En kyk, ‘n hand het my aangeraak en my op my knieë en op die handpalms waggelend laat opstaan. En hy het vir my gesê: Daniël, geliefde man, gee ag op die woorde wat ek met jou spreek, en gaan staan” (Daniël 10:10-11). Stel jou voor – die Here het Sy hande op Daniël se hoof gelê en hom geliefde genoem!

Daniël het nie die krag gehad om iets te sê nie – totdat God hom aangeraak het. Toe het hy ‘n vuur in sy boesem gevoel, ‘n nuwe krag.

In die ander gedeeltes wat noem dat Daniël deur God aangeraak was, sê die Skrif, “En die woord het gekom...insig het gekom....” Jy sien, insig kom na daardie manne of vroue wat hulle harte daarop rig om die aanraking van God te ontvang. Hulle lewe nie in verwarring nie; hulle hoor duidelik die woord wat God vir hulle stuur.

Die rede waarom so baie Christene vandag verward is, is omdat hulle nie die Here in gebed najaag nie. Hulle het nie vir Hom hulle tyd gegee of Sy aangesig gesoek nie. Ek sê vir jou, as jy jou hart sal rig soos Daniël en die las vir God se heerlikheid sal kry – nie moed verloor nie, en voortgaan totdat jy nie meer kan nie – sal jy kry wat Daniël gekry het: die aanraking van God!

3. Daniël het geweet dat elke nuwe krisis, ‘n nuwe aanraking van God nodig gehad het.

Daniël het die aanraking van God ondervind dwarsdeur sy wandel met die Here. Wanneer ‘n krisis ook al opgeduik het, sou hy homself weereens saam met God afsonder en ‘n nuwe openbaring en ‘n nuwe aanraking kry.

In Daniël 8, tydens die derde jaar van Bélsasar se heerskappy, was Daniël op sy aangesig, diep bedroef in sy siel en het hy ‘n eindtyd visie ontvang. Hy is “aangeroer en...opgerig” (Daniël 8:18). In Daniël 9 vind ons hom weer bedroef op sy aangesig, in nóg ‘n krisis. Dit is nou tydens die heerskappy van Koning Darius, en weereens het Daniël sy hart gerig om God te soek. Weereens is hy alleen, uitgestrek en swak – en weereens is hy aangeraak!

In hoofstuk 10, is Daniël nou amper negentig jaar oud, ‘n wyse, gerespekteerde man van God wat baie krisisse deurstaan het. Maar hy weier om terug te sit en op vorige oorwinnings te rus. Hy het weer sy hart gerig, asof hy nog nooit tevore die las van die Here gedra het nie. Soos ‘n rekruut soldaat, hou hy niks terug nie: hy keer terug na vas, ween en treur. Hy wil ‘n nuwe aanraking hê, ‘n nuwe werk van die Gees.

Daniël sê nie, “Here, ek het my tyd ingesit. Laat my my laaste dae in stille, ongesteurde toewyding leef. Ek sal bid dat U een of ander jong profeet in my plek oprig” nie. Nee! Daniël het die verantwoordelikheid besef van volwasse gelowiges om ‘n voorbeeld te stel – veral diegene wat bedienaars van God se Woord is.

Hy weet uit sy geskiedenis met God hoe om van God besit te neem. Hy weet dat wanneer God wil beweeg, Hy eers diegene met ervaring sal roep – diegene wat deur Hom aangeraak is in die verlede, wat weet hoe om Hom te bereik deur te sê, “Ek moet God weer vasgryp!”

Geliefde, God maak gereed om Sy Gees uit te stort. En Hy kom eerste na die Christen wat ‘n voorbidder is – die een wat in die verlede homself saam met die Here afgesonder het en die heerlikheid van Sy aanraking ontvang het. Jy mag moontlik ook Sy goddelike aanraking in die verlede beleef het.

Nou sê die Gees van God vir jou, “Sal jy jouself weereens voor My verootmoedig? Sal jy jou hart op My rig soos nog nooit tevore nie? Dit is ‘n nuwe dag, met groter probleme. Sal jy weer My werktuig wees?”

Weereens het Daniël homself gedissiplineer om God opnuut te soek – en God het gereageer! “Toe sê hy vir my: Wees nie bevrees nie, Daniël; want van die eerste dag af dat jy jou hart daarop gerig het om ag te gee en jou voor die aangesig van God te verootmoedig, is jou woorde gehoor, en om jou woorde ontwil het ek gekom” (Daniël 10:12).

Dierbare heilige, die oomblik wat jy sê, “Ja, Here, ek sal staan, in die bresse tree en die prys betaal,” hoor God jou! En wanneer God ‘n oorblyfsel kry wat dit werklik doen, sal Hy hemel en aarde beweeg. Geen demoon in die hel kan die krag van dit wat God wil doen weerstaan nie. Maar Hy sal kom om jou eers aan te raak!

Luister na God se eie verduideliking waarom Hy Daniël kom aanraak het: “jy... jou voor die aangesig van God...verootmoedig...” (Daniël 10:12). Die Hebreeuse woord vir verootmoedig hier beteken “Jy het ag gegee en gereageer. Jy het jou vlees met mening onderwerp. Jy het jouself gekasty vir My. Jy het jouself verneder om My te soek.”

In Daniël 10:18, het die nuwe aanraking van God weer na Daniël gekom: “Toe het die een wat soos ‘n mens gelyk het, my weer aangeraak en my versterk.” Daniël was nie langer alleen nie; nou het ‘n vryvloeiende gemeenskap met die Here gehad!

Dit is wat ek wil  hê – ‘n nuwe aanraking van God, iets vars. Waarom? Nie sodat ek deur mense geag kan word nie, ook nie om kragtig te wees of gevrees te word nie – maar om versterk te word deur Hom, soos Daniël was!

Ek het vier wonderlike aanrakings van God in my lewe beleef. Die eerste was by ‘n kampbyeenkoms toe ek agt was. Die tweede was toe God my die eerste keer na New York Stad geroep het. Die Heilige Gees het na my gekom en gesê, “Dawid, ek roep jou tot gebed.” Ek het gesê, “Ja, God” – en ek het begin ween soos ek nog nooit geween het nie. Na drie dae, het ek die las van die Here gevoel op ‘n manier wat ek nog nooit gevoel het nie.

Toe, eendag, het ek huistoe gegaan, ‘n Life tydskrif opgetel en die gesigte van sewe jongmanne gesien wat moord gepleeg het. En God het gesê, “Gaan na New York toe. Dít is waaroor dit gaan.”

Jare later, het ek ‘n derde aanraking gehad. Ek het ‘n aantrekking begin voel, ‘n rusteloosheid – ‘n goddelike ontevredenheid. God het gesê, “Gaan na jou binnekamer en soek My.”

Ek het drie weke in diepe gebed deurgebring terwyl ek voor God getreur het, Sy droefheid oor die kerk en Sy haat vir sonde gevoel het. Toe, eendag, het ek by ‘n meer gestaan – en begin profeteer op die toppunt van my stem. Wat uit daardie aanraking met God gespruit het, was die boek, Set the Trumpet to Thy Mouth.

Die vierdie aanraking wat ek ontvang het was vyf jaar gelede. Dit het hier in New York gebeur, toe ek gekom het vir verskeie somer straatveldtogte. Ek het ‘n altaar uitnodiging gegee in die Bronx – en afvallige Pinkster bedienaars het na vore gekom!

Ek het na Time Square gegaan en gehoor hoe dwelmsmouse skree, “Ek het die goed wat Len Bias doodgemaak het!” Hulle het die dood verkoop, en dit het my hart gebreek. Dit is toe wat God gesê het, “Jy moet My weer soek.”

Ek het op die strate begin bid, en in die middel van Times Square, het God vir my gesê, “Kom na New York Stad en begin ‘n kerk – net hier in Times Square. Ek wil die stad waarsku oor naderende oordeel. En ek sal só ‘n ontwaking stuur, dat jy nooit sal hoef te leen of gebrek hê aan geld nie!”

Geliefde, ons arbeid is nie meer net in daaglikse gebed of gewone diens nie. God sê in wese vir ons, “Julle het sover gekom – maar as julle nie waaksaam is nie, sal julle weifel.” Ons sal die herlewing en die uitstorting van die Heilige Gees misloop, tensy God besit neem van ware voorbidders.

Maar as jy en ek van God sal besit neem soos Daniël, sal ons ‘n aanraking van God ontvang. Maar dit sal nie gebeur nie, tensy ons desperaat word en sê, “God, ek gaan bid – en ek is gewillig om die prys te betaal!

“Dan sal julle daarvandaan die HERE jou God soek en vind as jy Hom met jou hele hart en jou hele siel soek” (Deuteronómium 4:29).