Jou Stryd is die Here s’n

David Wilkerson (1931-2011)

Die rede waarom ek hierdie skryf, is om jou te herinner dat die stryd wat jy beleef, nie joune is nie, maar God s'n. As jy ’n kind van Hom is, kan jy seker wees dat Satan “teen jou sal woed”.

In 2 Kronieke het 'n groot menigte God se volk aangeval. Koning Josafat en sy volk het hulle harte daarop gerig om te vas en die Here te soek. Die koning het ‘n gebed tot God uitgeroep wat die meeste van ons ook soms al in ons geestelike reis gebid het. “Want in ons is geen krag teenoor hierdie groot menigte wat teen ons gekom het nie; en ons weet nie wat ons moet doen nie, maar ons oë is op U” (2 Kronieke 20:12). Die Gees van God het toe neergedaal, en een man het met die hele gemeente gepraat en gesê: “Wees nie bevrees of verskrik vanweë vir hierdie groot menigte nie, want die stryd is julle saak nie, maar die saak van God” (2 Kronieke 20:15).

Jesaja het 'n soortgelyke waarskuwing gegee aan al die magte wat God se volk aanval. “Wie het jy gesmaad en gelaster? En teen wie het jy die stem verhef en jou oë hoogmoedig opgehef? Teen die Heilige van Israel!” (Jesaja 37:23).

God het vir Satan gesê: “Maar Ek ken jou sit en jou uitgang en jou ingang en hoe jy teen My raas” (Jesaja 37:28). God het vir sy volk Israel gesê, en Hy sê vandag vir ons: “Die stryd is nie teen jou nie. Dit is Satan se woede teen My, wat in jou woon.”

Jy kan jou stryd vinnig beëindig deur moed te verloor en toe te gee aan jou vrese en twyfel. Satan sal diegene wat hul vertroue in die Here prysgee, nie pla nie. Ja, die stryd is die Here s'n, maar ons het 'n rol om te speel. Geloof vra dat ek al my probleme – al my kritieke situasies, al my vrese, al my bekommernisse – in die hand van die Here oorgee. Wanneer ek alles gedoen het wat ek kan doen en ek weet my stryd is bokant my vermoë, moet ek alles in God se hande oorgee.

Ons Here ken die woede van Satan en ons moet werklik glo dat Hy sal optree. Hy sal ons deur vloede en vure bring en alle geestelike vyande laat vlug. As jy vashou aan jou geloof, verwag dat God deur sy Gees in jou situasie sal inkom en 'n einde aan jou stryd sal maak. Die uitweg is om te vertrou!