Met die Vlees Stoei

David Wilkerson (1931-2011)

As navolgers van Christus, moet ons God op sy woord neem en aanvaar wat Hy van ons sê. Dit beteken dat ons “ou mens” iemand verteenwoordig wat nog steeds probeer om regverdig voor God gesien te word weens sy eie werke. So 'n mens se gewete bring hom gedurig onder skuldgevoelens, maar in plaas daarvan om hom te bekeer, belowe hy om sélf sy sondeprobleem te oorkom. “Ek gaan verander! Ek sal vandag teen my boesemsonde begin stry, maak nie saak wat die prys is nie. Ek wil hê dat God moet sien hoe hard ek probeer.”

So 'n mens bring baie sweet en baie trane na die Here. Hy bid en vas om te bewys dat hy 'n goeie hart het en om sy eie trots tevrede te stel. Hy is in staat om sonde vir dae aaneen te weerstaan en daarom sê hy vir homself: “As ek twee dae kan gaan, waarom dan nie vier nie? Waarom nie 'n week nie?” Aan die einde van die maand voel hy goed oor homself, oortuig dat hy homself vry werk.

Dan kom sy ou sonde weer te voorskyn en sink hy in diepe wanhoop in. Dit veroorsaak dat die siklus weer van voor af begin. So 'n mens is op 'n trapmeul en hy sal nooit daar afklim nie.

Paulus sê dat die ou mens aan die kruis dood verklaar is. Sy ou mens is saam met Christus gekruisig, dood in die oë van God. Jesus het daardie ou mens saam met Hom na die graf geneem, waar hy vergeet is. Die Here sê oor ons ou mens: “Ek sal so iemand nie erken of mee onderhandel nie. Daar is net een mens wat ek nou erken, een met Wie ek sal onderhandel. Dit is my Seun, Jesus, en almal wat in Hom is deur die geloof.”

Die nuwe mens is die persoon wat alle hoop laat vaar het om God te behaag deur enige inspanning van die vlees. Hy het aan die ou weë van die vlees gesterf.

Hierdie nuwe mens steun op die waarheid van hierdie vers: “En dat niemand deur die wet deur God geregverdig word nie, is duidelik; want die regverdige sal uit die geloof lewe” (Galásiërs 3:11, AFR53). Hy glo: "Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God" (Kolossense 3: 3). Hy voel dit miskien nie altyd of begryp dit nie volledig nie, maar hy sal nie met sy liefdevolle Vader se Woord stry nie. Hy aanvaar dit deur geloof, omdat hy vertrou dat die Here aan sy Woord getrou is.