Word Sterk in Jou Beproewing

David Wilkerson (1931-2011)

As ons nie konflik, druk of beproewings gehad het nie, sou ons passief en louwarm geword het. Verval sou intree, en ons tempel sou in puin lê. Dit is waarom die plan van die vyand teen ons duidelik is: Hy wil ons uit die geveg haal.

Ons kry al die hulpbronne vir krag om voort te gaan en die mag oor die vyand in ons geestelike gevegte. Op daardie dag wanneer ons voor die Here staan, sal Hy vir ons sê: “Onthou jy wat jy deurgemaak het in daardie aaklige stryd? Kyk wat jy deur dit alles heen bereik het. Dit is alles verkry deur die stryd wat jy oorwin het.”

Die eenvoudige feit is dat God sy skat in menslike liggame geplaas het. Die Skrif sê: “Maar ons het hierdie skat in erdekruike, sodat die voortreflikheid van die krag van God mag wees en nie uit ons nie” (2 Korinthiërs 4:7-8, AFR53). Die Here het jou 'n tempel gemaak, 'n huis vir sy Gees om in te woon, en jy het 'n verantwoordelikheid om die tempel in stand te hou.

As jy lui en onverskillig raak en die nodige instandhoudingswerk nalaat – gereelde gebed, voeding uit God se Woord, gemeenskap met die heiliges – sal verval intree, en jy sal geruïneer word.

As ek terugkyk op my eie jare van bediening, onthou ek baie kere dat dit vir my maklik sou wees om op te hou. Ek sou bid: “Here, ek verstaan ​​nie hierdie aanval nie. Waar kom dit vandaan? Ek sien glad nie die doel daarmee nie.” Mettertyd het ek vrug op daardie beproewings begin sien, en dat krag en geestelike rykdom aan my verskaf was op 'n manier wat ek op geen ander wyse kon kry nie.

Soos Paulus aan die vroeë kerk verduidelik het, “Want ons ligte verdrukking wat vir 'n oomblik is, bewerk vir ons 'n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid; omdat ons nie let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig” (2 Korinthiërs 4:17-18).

Ek moedig jou aan om kragtig te word in jou beproewing deur geloof en te glo dat God dit toegelaat het. Weet dat Hy dit gebruik om jou te sterker te maak, om jou te help om buit van Satan te neem, om jou 'n seën vir ander te maak en om jou te heilig tot sy eer.