Word ‘n Volk van Gebed

David Wilkerson (1931-2011)

In Jeremiah 5, het God gepleit: “Swerf rond in die strate van Jerusalem, en kyk tog en verneem en soek op sy pleine of julle iemand vind, of daar een is wat reg doen, wat waarheid soek – dan sal Ek daaraan vergifnis skenk” (Jeremia 5:1, AFR53). Die Here het in wese gesê: “Ek sal genadig wees as Ek net een mens kan vind wat My sal soek.”

Gedurende die Babiloniese ballingskap het God so 'n man in Daniël gevind. Toe die Heilige Gees na Daniël gekom het, het die profeet die boek Jeremia gelees en gevra waarom God Israel nie red na die beloofde 70 jaar nie. Toe die openbaring kom dat Israel nie tot bekering gekom het nie, is Daniël aangespoor om te bid: “En ek het my aangesig tot die Here God gerig om met vas, en in roukleed en as, my aan gebed en smekinge te wy. En ek het tot die HERE my God gebid en belydenis gedoen en gesê” (Daniël 9:3-4).

Daniël het geweet dat God se volk misluk het, maar het die profeet sy tydgenote vir hulle sondes geroskam? Nee. Daniel het hom vereenselwig met die sedelike verval rondom hom gesê: “Ons het gesondig en verkeerd gedoen en goddeloos gehandel en in opstand gekom en van u gebooie en verordening afgewyk... Here, aan ons kom toe beskaming van die aangesig, aan ons konings, aan ons owerstes en aan ons vaders, omdat ons teen U gesondig het” (Daniël 9:5,8).

God begeer vandag om sy volk te seën, maar as ons verstand besoedel is met die gees van hierdie wêreld, is ons nie in ‘n posisie om sy seëninge te ontvang nie. Daniel het hierdie kragtige stelling gemaak: “Al hierdie onheil het oor ons gekom, en ons het die aangesig van die HERE onse God nie om genade gesmeek deur ons te bekeer van ons ongeregtighede en ag te gee op u waarheid nie. Daarom was die HERE wakker oor die onheil, om dit oor ons te bring; want die HERE onse God is regverdig by al sy werke wat Hy doen, maar ons het nie na sy stem geluister nie” (Daniël 9: 13–14).

Ons moet ons eie wandel met die Here ondersoek en die Heilige Gees ons gebiede van kompromie laat uitwys. Ons moet meer doen as om vir 'n afvallige nasie te bid. Ons behoort uit te roep: “Ag, Here, deursoek my hart. Openbaar die gees van die wêreld wat in my siel ingesluip het. ” Net soos Daniël, kan ons dan ons aangesig rig om te bid vir die verlossing van ons gesinne en ons land.