Wanneer Jy ‘n Verlore Kind Liefhet – Deel 1

Gary Wilkerson

Min mense bespreek die diep pyn, angs en woede wat moonlik gepaard gaan met die liefhê van 'n verlore kind. Toe die Bybelse verlore seun teruggekeer het huis toe, het God erkenning gegee aan die vader se angs en sy oorweldigende verligting om sy rondloperseun te sien terugkeer huis toe. Om vir 'n eiesinnige persoon om te gee is 'n woestynreis vir die siel. Terwyl ons in die middel daarvan is, hoe maak ons seker dat ons ook vir ons eie harte sorg?

Die gelykenis van die verlore seun in Lukas 15:11-32 word dikwels vertel as 'n les oor genade, vergifnis, jaloesie of selfs eerlikheid. Ons gee egter selde behoorlik aandag aan wat die verlore seun se gebroke lewe die pa gekos het ... die verstandelike, geestelike en fisiese tol wat dit hom geëis het. Slegs diegene wat ook 'n verlore kind liefhet, kan getuig van wat die vader gely het.

Die jare van vervreemding definieer hierdie verhaal. Die vader – die hart van die gesin – het die laaste woord gehad en sy eie innerlike reis sou hul lot bepaal.

Judy Douglass, skrywer van When you Love a Prodigal, het saam met haar eie seun, Josh, deur hierdie dal van trane gestap. Sy het gesê dat God nie net in Josh se lewe gewerk het nie, maar sy het besef dat God ook op haar gefokus was. Die reis het areas van haar karakter belig wat sterk sou moes wees as haar gesin sou oorleef en genees. Daar was drie transformasie-areas wat God uitgelig het: onvoorwaardelike liefde, genade en oorgawe.

Onvoorwaardelike liefde het dikwels ontbreek, want Josh kon haar jare lank nie terug liefhê nie. “God het vir my gewys dat sy liefde vir ons nie liefde in ruil daarvoor verwag nie”, het sy gesê. “Ek moes ook alle verwagtinge van wederkerige liefde prysgee.” Haar stryd met genade en oorgawe was ook fel. God het vir haar hierdie pragtige, gebroke seun gegee om lief te hê. Sy het gou besef dat sy nie genade kon fabriseer nie; dat genesing eers sou kom as God se genade deur haar vloei. Uiteindelik, deur haar wil en haar eie oplossings aan God oor te gee, het sy die Heilige Gees losgelaat om in haar gesin te werk.

Ons sien dikwels nie veel waarde in die woestynjare nie; al wat ons voel is verlies en hartseer. God wil egter hê dat ons bemoedig moet word. Die lang, eensame seisoen van 'n innige verhouding met Hom bou, lê 'n sterk grondslag vir regte keuses en ‘n nuwe begin. “En toe hy nog ver weg was, het sy vader hom gesien en innig jammer vir hom gevoel en gehardloop en hom omhels en hartlik gesoen” (Lukas 15:20).