Wees Deel van ‘n Wonderwerk

Gary Wilkerson

Markus 2 en Johannes 5 vertel die verhale van twee invalide mans. Hulle het baie in gemeen gehad. Albei was verlam en kon nie op hul eie oor die weg kom nie; albei het in hul hulpelose toestand Jesus onverwags ontmoet. Albei is genees. 

Die verskil is hoe die twee mans op die ou end vir Jesus ontmoet het. In Johannes 5:1-15 sien ons 'n man omring met mense, maar hy was alleen. Hy het moed verloor. Hy het jaar na jaar moedeloos gelê op sy tydelike bed tussen die pilare van die Skaappoort by die bad. Hy het gesê hy het niemand gehad om hom tot in die genesende waters te help nie. Toe Jesus en die skares wat Hom gevolg het in die buurt aankom, kon die verlamde man glad nie naby hulle kom nie. 

Die verlamde in Markus 2:1-2 het Jesus se genesende aanraking ook nodig gehad, maar hy was gelukkiger. Hy het vriende gehad. Die boodskap het gekom dat Jesus terug by die huis was en die skare het die huis gevul om Hom te hoor praat. “Sodat daar selfs by die deur nie meer plek was” (Markus 2:2, AFR53). "Geen probleem!" het die die man se vriende gesê. “Ons sal jou by Jesus kry”. 

Jesus weet natuurlik waar ons is. Nogtans is daar tye wanneer Hy diegene rondom ons dophou om te sien of hulle na vore sal kom en help. In Markus 2 bedien Hy nie net die siek man nie, maar Hy toets ook sy vriende. Ek dink aan die oomblik toe die verlamde man voor Jesus deur die dak gekom het. Wat ‘n vriendskap! Die manne wat op daardie dak geklim het, het belê in die uitkoms; hulle was deel van die wonderwerk. Almal daar was aangeraak, nie net deur Jesus se genesing van die man en vergifnis van sy sonde nie, maar ook deur die volharding, lojaliteit en geloof van die man se vriende. 

Die Here het die man by die bad opgesoek, want Hy het geweet niemand sal hom ooit help nie. Keer op keer in sy bediening het Jesus dit gedoen deur 'n gapende leemte in mense se lewens te sien waar daar liefde en vriendskap en ondersteuning moes gewees het. Dit is hoekom Hy omstanders by sy wonderwerke betrokke gemaak het. Hy wou hê dat hulle die krag van opofferende liefde moes verstaan, dat hulle pogings deel van die wonderwerk moes wees.

“Dra mekaar se laste”, het Paulus gesê, “en vervul so die wet van Christus” (Galásiërs 6:2). Of dit nou klein of groot is, 'n tydelike oplossing of 'n langtermynversorgingsverbintenis, elke daad van liefde en diens is noodsaaklik vir die koninkryk van God.