Wat Weet Ons van Volharding Af?

David Wilkerson (1931-2011)

Om te volhard, beteken “om deur te druk ten spyte van swaarkry; om geduldig te ly sonder om op te gee.” Kortliks, dit beteken om aan te hou of uit te hou, maar hierdie woord beteken min vir die huidige geslag. Baie Christene van vandag is moedverloorders. Hulle verloor moed met hulle eggenotes, hulle families en hulle God.

Petrus adresseer hierdie onderwerp deur te sê: “Want dit is genade as iemand, ter wille van die gewete voor God, leed verdra deur onregverdig te ly. Want watter roem is daar as julle verdra wanneer julle sonde doen en geslaan word? Maar as julle verdra wanneer julle goed doen en ly — dit is genade by God. Want hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle ‘n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg; Hy wat geen sonde gedoen het nie en in wie se mond geen bedrog gevind is nie; wat, toe Hy uitgeskel is, nie terug uitgeskel het nie; toe Hy gely het, nie gedreig het nie, maar dit oorgegee het aan Hom wat regverdig oordeel” (1 Petrus 2:19-23, AFR53).

Net so beveel die apostel Paulus: “Ly dan verdrukking soos ‘n goeie krygsman van Jesus Christus” (2 Timótheüs 2:3). Uiteindelik, gee die Here self vir ons hierdie belofte: “Maar wie volhard tot die einde toe, sal gered word” (Matthèüs 24:13).

Wat is jou swaarkry? Is jou huwelik in gevaar? Is jou werk in ‘n krisis gedompel? Het jy ‘n stryd met ‘n familielid, ‘n verhuurder of het ‘n vriend jou verraai?

Ons moet moed hou. Net soos Paulus se lyding nooit opgehou het nie, het sy openbaring, sy volwassenheid, sy diep geloof en sy vaste vrede nooit opgehou nie. Hy het gesê: “As ek ‘n geestelike mens gaan wees — as ek werklik my Here wil behaag — dan kan ek nie teen my omstandighede baklei nie. Ek gaan vasbyt en nooit moed opgee nie. Niks op hierdie aarde kan vir my gee wat Ek van God se Gees kan kry elke dag in my beproewing. Hy maak van my ‘n geestelike mens.”

Paulus se lewe “haal asem” met die Gees van Christus. So gaan dit met elke ware geestelike mens. Die Heilige Gees stroom uit daardie dienaar se innerlike wese met die hemelse briese van God. Hierdie mens is nie terneergedruk nie; hy murmureer of kla nie oor sy lot nie. Hy gaan miskien deur die beproewings van sy lewe, maar hy glimlag steeds omdat hy weet dat God aan die werk is in hom en sy ewige heerlikheid openbaar.