Wat is die Nastrewe van God?

Gary Wilkerson

Hoe meer ek God nastreef, hoe meer ek sy natuur en karakter leer ken, hoe meer verander dit my lewe. Sy heerlikheid in my lewe neem toe elke keer as ek Hom soek. Dit is nie 'n eenmalige gebeurtenis nie; dis eerder elke oomblik van elke dag. 'n Lid van my personeel het dit onlangs so gestel: "Om met God te wandel is 'n daaglikse, onophoudelike, lewenslange strewe na Hom."

Dit is wat ek graag lewegewende teologie noem. Dit is nie boekwurmteologie of lewelose leerstellings nie. Dit is eerder om die verborge dele van God se natuur te leer ken; dit is die hart wat sê: “Wie is U, God? Ek wil meer weet.”

Wanneer jy aan 'n goudmyn dink, wat kom by jou op? 'n Beeld van mynwerkers met harde hoede wat met masjinerie diep onder die grond werk? ’n Nabyskoot van die glinsterende ertsaar in die rots, soos in die flieks? Die proses is eintlik baie meer kompleks en die werklike ertswinning is maar net een stap. Daar is uitgebreide eksplorasie en ontwikkeling, voorlopige prospektering, geochemiese toetsing, monsterontleding, strukturele kartering, boorwerk – dit is 'n lang lys.

In ons reis om God beter te leer ken, wil ons soms reguit na die hoof-ertsaar gaan, maar die rykdom is in die proses. Jesus Christus se kruisdood en opstanding waarborg ons te eniger tyd direkte toegang tot die troon van genade en God self. Daardie heilige binnehof van sy teenwoordigheid is egter net die ingang, die beginpunt van 'n groot geestelike reis na sy hart en verstand. Die strewe is gevul met eksplorasie en ontwikkeling, toetsing en ontleding. Elke tree openbaar meer van Hom, vorm ons karakter, maak ons gees volwasse en versterk ons geloof.

Die skrywer Jon Bloom van Desiring God sê aangaande die Woord: “Die wonderlike ding van hierdie myn is dat ons dikwels skatte op onverwagte plekke vind. God hou daarvan om uit te brei op openbaringsrykdom, al lyk dit aanvanklik na 'n redelik eenvoudige historiese vertelling”. Wanneer ons die lewe deur God se oë sien, word ons eens beperkte lewensbeskouing verbreed met nuwe idees en moontlikhede.

In 1 Korinthiërs lees ons: “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ’n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet” (1 Korinthiërs 2:9, AFR53). Vra die Here vandag om jou verstand oop te maak en jou te wys hoe om te leef in die wonder en avontuur van om Hom te ken.