Wanneer Jou Hartseer Talm

David Wilkerson (1931-2011)

Op een of ander manier het ons almal hartseer. Elke mens op aarde dra sy eie pynlas. As jy diep seergemaak is, kan geen mens op aarde die innerlike vrese en diepste pyn wegneem nie. Nie eers die beste vriende kan die stryd waardeur jy gaan of die wonde wat jou toegedien is, verstaan nie.

Dit is waarmee die Psalmdigter in Psalm 6:7-8 geworstel het: “Ek is moeg van my gesug; elke nag nag laat ek my bed swem; ek deurweek my bed met trane. My oog het dof geword van verdriet; dit het swak geword vanweë al my teëstanders. ”

Is daar 'n balsem vir 'n gebroke hart? Is daar genesing vir diep, innerlike hartseer? Kan die stukke weer aanmekaar gesit en die hart nog sterker gemaak word?

Ja! Absoluut ja. Indien nie, dan sou God se Woord 'n geskeerdery wees, en God self sou 'n leuenaar wees. God het jou nie 'n pynlose manier van lewe belowe nie. Hy het jou “'n uitkoms” belowe. Hy het belowe om jou te help om jou pyn te verdra, krag om jou weer op die been te bring wanneer swakheid jou laat steier.

Ons liefdevolle Vader het gesê: “Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra” (1 Korinthiërs 10:13, AFR53).

Jou hemelse Vader waak oor jou met 'n onwrikbare oog. Elke beweging word gemonitor. Elke traan word opgevang. Hy identifiseer met al jou pyn. Hy voel alle hartseer. Hy sal nooit toelaat dat jy in jou trane verdrink nie. Hy sal nie toelaat dat jou hartseer jou gedagtes oorneem nie. Hy belowe om betyds te kom om jou trane af te vee en jou blydskap in plaas van smart te gee.

Paulus moedig die kerk aan: “Want alles wat tevore geskryf is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê” (Romeine 15:4).

Jy het die vermoë om jou hart te laat juig en bly te wees in die Here. God se oog is op jou, en Hy beveel ons om op te staan en al die vrese wat twyfel veroorsaak, af te skud.