Wandel in die Heerlikheid

David Wilkerson (1931-2011)

Een ding wat ons kan bewaar in die naderende moeilike tye is ‘n begrip van God se heerlikheid. Dit mag nou wel vir jou klink na ‘n verhewe konsep wat liewer aan teoloë oorgelaat moet word, maar ek is oortuig die onderwerp van God se heerlikheid is van groot praktiese waarde vir alle ware gelowiges. Deur dit te begryp, ontsluit ons die deur na ‘n oorwinnende lewe.

Die heerlikheid van God is ‘n openbaring van ons Here se natuur en wese. Jy onthou waarskynlik uit die Ou Testament dat Moses ‘n letterlike kykie na God se heerlikheid gekry het. Voor dit, het die Here Moses uitgestuur met geen verduideliking van Homself nie, behalwe die woorde, “EK IS.” Moses wou iets meer van God weet en daarom het hy by Hom gepleit, “Here, wys my u heerlikheid.”

God het gereageer deur Moses eenkant te neem en hom in die skeur van ‘n rots te plaas. Die Skrif sê dat Hy Homself aan Moses in al sy heerlikheid geopenbaar het (sien Exodus 34:6-7).

Ek glo hierdie gedeelte is absoluut noodsaaklik vir ons begrip van wie ons Here is. Die openbaring van God se heerlikheid het kragtige effekte op diegene wat dit ontvang het en bid vir begrip daarvan. Tot op hierdie stadium, het Moses die Here gesien as ‘n God van wet en toorn. Hy het gebewe van vrees in die Here se teenwoordigheid en Hom gesmeek, na Hom uitgeroep en gepleit om Israel se onthalwe. Dit was die basis van sy van aangesig-tot-aangesig verhouding met die Here.

Met die eerste oopgopslag van God se heerlikheid, was Moses aangespoor om te aanbid: “Toe het Moses hom gou na die aarde toe gebuig en neergeval” (Exodus 34:8, AFR53). Sien jy die fenomenale waarheid wat die Skrif vir ons hier aantoon? Ware aanbidding ontstaan uit harte wat oorweldig word deur ‘n visioen van God. Dit is gebaseer op die openbaring wat God vir ons van Homself gegee het, sy goedheid, sy genade en sy gretigheid om te vergewe. As ons God moet prys beide in gees en in waarheid, moet ons aanbidding gebaseer wees op hierdie ontsagwekkende waarheid oor Hom.

Wanneer ons ‘n openbaring van God se heerlikheid kry, kan ons aanbidding nie anders as om te verander nie. Waarom? As ons sy heerlikheid sien, verander dit die manier waarop ons lewe! Dit beïnvloed ons voorkoms en gedrag en verander ons van “heerlikheid tot heerlikheid” en maak ons meer soos Hy. Elke nuwe openbaring van sy liefde en genade bring bonatuurlike verandering.