Waarom die Here sy Verhoring Uitstel

David Wilkerson (1931-2011)

Die meeste van ons bid soos Dawid: “Verberg u aangesig nie vir my op die dag as ek in benoudheid is nie; neig u oor tot my; op die dag as ek roep, verhoor my gou” (Psalm 102:3). Die Hebreeuse woord vir “gou”' suggereer "nou dadelik, maak gou, in die einste uur wat ek U aanroep, doen dit!" Dawid het gesê: "Here, ek vertrou op U, maar maak asseblief gou!"

God is nie haastig nie. Hy spring nie op ons bevele nie. Trouens, soms wonder jy dalk of Hy ooit sal verhoor. Jy roep, huil, vas en hoop; maar dae, weke, maande, selfs jare gaan verby, en jy ontvang nie eers die geringste bewys dat God jou hoor nie. Jy kan dalk verward raak en jouself begin bevraagteken en dink: "Iets moet my gebede blokkeer."

Met verloop van tyd, kan jou houding teenoor God iets soos volg word: “Here, wat moet ek doen om hierdie gebed verhoor te kry? U het in u Woord belowe om my te verhoor, en ek het met geloof gebid. Hoeveel trane moet ek stort? Wat doen ek verkeerd? Watter sonde in my lewe verhinder my gebede?”

Waarom vertraag God verhoring van opregte gebede? Dit is beslis nie omdat Hy 'n gebrek aan krag het nie, en Hy is heel gewillig om ter wille van ons te werk en vir ons goeie gawes te gee. Nee, die antwoord word gevind in een van Jesus se gelykenisse. “En Hy het ook aan hulle ’n gelykenis vertel met die oog daarop dat ‘n mens gedurigdeur moet bid en nie moedeloos word nie” (Lukas 18:1).

Die Griekse woord vir “moedeloos word” of “flou word” in die King James Version, beteken "ontspan, swak of moeg word in geloof, die stryd gewonne gee, nie meer vir voltooiing wag nie." Die Here soek na 'n biddende volk wat nie sal verslap of moeg word om na Hom toe te kom nie.

Paulus het aan die vroeë kerk geskryf en hulle op soortgelyke wyse aangemoedig. “En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie” (Galásiërs 6:9). Die volk van God sal op die Here wag, nie opgee voordat sy werk voltooi is nie, en hulle sal getrou gevind word en wag tot Hy verhoor.