Waar is Jou Kalkutta?

Tim Dilena

Moeder Teresa het eenkeer gesê: “Bly waar jy is. Kry jou eie Kalkutta. Vind die siekes, hulle wat ly en die eensames net daar waar jy is, in julle eie huise en in julle eie gesinne, in julle werkplekke en in julle skole. Jy kan Calcutta oor die hele wêreld vind, as jy die oë het om te sien. Oral, waar jy ook al gaan, kry jy mense wat ongewens, ongeliefd, onversorgd, verwerp deur die samelewing, heeltemal vergete en heeltemal alleen gelaat is. Help een persoon op 'n slag en begin altyd by die persoon naaste aan jou.” 

Wat my interesseer oor hoofstukke 5 tot 7 in Matthéüs is nie net Jesus se Bergpredikasie nie, maar wat die dag ná die preek plaasgevind het. Dit is wanneer die skare tot die individu krimp. Die gehoor het nou 'n naam. Ons sien dit dadelik in Matthéüs 8:1-2: “En toe Hy van die berg afkom, het groot menigtes Hom gevolg; en daar het ‘n melaatse man gekom” (AFR53).

Die lewe het net werklik geword. Die ergste siekte het gekom ná die grootste preek. Jy weet waarvan ek praat. Ná die sang en die prediking is daar skuld, huweliksprobleme, verslawings, kanker, diabetes, egskeiding en mishandeling.

Hoofstuk 8 gaan alles oor wat Maandag gebeur na die groot en inspirerende Sondagoggend erediens. Om die Bybel te ken en om Christelike liedere te sing, is belangrik, maar dit beteken nie dit sal ander mense se lewens beter te maak wanneer ons hulle in 'n tragedie ontmoet nie. Jy kan nie medelydend wees sonder mense nie. Niemand is deernis alleen nie. Ons Kalkuttas is reg langs ons, en hulle het ons deernis nodig.

Elkeen van ons het drie hulpbronne om deernis te toon: tyd, skatte en talente. Ek het iemand eenkeer hoor sê: "Jy kan die prioriteite van 'n persoon se lewe sien in twee dokumente: 'n tjekboek en 'n kalender". Ek sou hierdie vraag byvoeg: Wat is jou talent? Jy het ten minste een; almal het. Die apostel Petrus het in 1 Petrus 4:10 geskryf: “Namate elkeen ’n genadegawe ontvang het, moet julle mekaar daarmee dien soos goeie bedienaars van die veelvuldige genade van God”. Of jou gawe om mense lief te hê, mense te help, mense te dien, om aan mense te gee, om mense kerk toe te neem ... dit gaan altyd oor mense. Dis hoe jy deernis toon. Waar is jou Kalkutta? Waar word die lewe vir jou werklik? Hoe kan jy deernis toon tydens jou Maandag?