Volwassenheid in Ons Geloof

David Wilkerson (1931-2011)

Paulus het die Efésiërs gewaarsku: “Sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering” (Efésiërs 4:14, AFR53). Jy dink dalk: “Hierdie vers is nie op my van toepassing nie. My fondament is Bybels solied. Ek word nie meegesleur deur al die nuwe evangeliese giere en ligsinnige foefies wat mense se aandag van Christus aflei nie. Ek is gewortel en gegrondves in God se Woord.”

Luister egter na die res van Paulus se vers: “deur die bedrieëry van die mense, deur sluheid en listiglik tot dwaling te bring” (Efésiërs 4:14). Miskien sal valse lering jou nie mislei nie. Paulus sê jy kan steeds meegesleur word deur ‘n hele ander saak. Hy vra: “Word jy ontwrig deur die bose planne van hulle wat teen jou is?”

Paulus se boodskap roep ons om onsself weer te ondersoek. Hoe reageer ons op mense wat hulleself ons broers en susters in Christus noem, maar valshede oor ons versprei?

As Paulus beveel: “Moenie meer kinders wees nie,” sê hy in wese vir ons: “Daardie vyande van jou – diegene wat skinder en laster, bedrieg en manipuleer, geslepe en listig is, mislei en agterbaks is – ek sê vir julle dat hulle almal rebelse kinders is. Hulle is slinks en bederf. Hulle het nie toegelaat dat God se genade ‘n werk in hulle doen nie. Moenie vir hulle goddelose, kinderagtige speletjies val nie. Hulle wil hê jy moet op hulle gemeenheid reageer soos ‘n kind, maar jy moet hulle nie met kinderagtigheid antwoord nie.

In volgende vers, dring Paulus by ons aan om volwasse te word. “Maar, terwyl ons in liefde die waarheid betrag, in alles sou opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus, uit wie die hele liggaam – goed saamgevoeg en saamverbind deur die ondersteuning wat elke lid gee volgens die werking van elke afsonderlike deel in sy mate – die groei van die liggaam bevorder vir sy eie opbouing in liefde” (Efésiërs 4:15-16).

Jy kan nie die minagting wat jy kry, die skade aan jou gedoen, die latering teen jou uitgespreek, die bedrog en misleiding wat op jou gerig is, help nie. Jy kan egter hierdie dinge gebruik om in genade te groei. Sien dit as geleenthede om meer soos Christus te word. Reageer sag met ‘n nederige gees. Vergewe diegene wat jou kwaadwillig misbruik.