Vier Beloftes van God

David Wilkerson (1931-2011)

Daar is vier verwagtinge wat gelowiges moet hê, want dit is gebaseer op absolute beloftes wat die Here aan ons gemaak het. Ons God is 'n beloftemaker en 'n beloftehouer!

Verwag om beloon te word terwyl jy die Here ywerig soek. “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ’n beloner is van die wat hom soek” (Hebreërs 11:6, AFR53). Jy kan met geloof vir 'n teken van die Here vra om jou te bemoedig en jou vertroue weer aan te wakker. Verwag dat Hy sy belofte sal nakom om jou nou te beloon wanneer jy in die grootste nood is. God het gesê dat Hy diegene beloon wat Hom ywerig soek, so soek Hom dus daagliks.

Verwag om bewyse van 'n progressiewe wonderwerk in jou lewe te sien. “By God is alle dinge moontlik” (Markus 10:27). Ek het geskryf oor oombliklike wonderwerke en progressiewe wonderwerke. Progressiewe wonderwerke begin op onsigbare, stil maniere en ontvou bietjie vir bietjie, een klein genade op 'n slag. Verwag om God op geheimsinnige maniere te sien werk, ongesiens vir die menslike oog. Jy kan sê: "Ek weet nie hoe dit sal gebeur nie, maar ek glo God het 'n antwoord op my gebede in werking gestel die heel eerste uur wat ek gevra het."

Verwag om in God se beloofde plek van rus in te gaan. “Daar bly dus ‘n sabatsrus oor vir die volk van God….  Laat ons ons dan beywer om in te gaan in dié rus, sodat niemand in dieselfde voorbeeld van ongehoorsaamheid mag val nie” (Hebreërs 4:9, 11). Die afgelope jaar was een van die stresvolste vir baie gelowiges. God het nooit bedoel dat sy kinders in vrees en wanhoop moet leef nie. Ons het 'n roekelose geloof nodig, 'n vertroue in Hom in die aangesig van vrees en probleme. Dit is nou die tyd om dit alles op Jesus te laai.

Verwag dat die Heilige Gees altyd in sy tempel sal wees. “Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julleself behoort nie?” (1 Korinthiërs 6:19). Die Heilige Gees woon in die hart van elke gelowige. Hy is alomteenwoordig in die hele wêreld en heelal. Hy verlang dat jy van Hom verwag om sy teenwoordigheid aan jou te openbaar en in toenemende mate elke dag wat verbygaan.

Glo hierdie beloftes. Hou vas aan hierdie vier verwagtinge en jy sal wonderlike dinge in jou lewe beleef.