Uit die Oorvloed van die Hart

David Wilkerson (1931-2011)

Wanneer ek as kind iets stout gesê het, het my ma my mond met seep uitgespoel. Dit was egter nie my mond wat skoonmaak nodig gehad het nie; dit was my hart! Jy sien, jou tong praat wat reeds in jou hart is. Dit is die presiese woorde van ons Here Jesus Christus, en Hy sê dat losbandige, sorgelose, goddelose praatjies slegs uit 'n onrein hart kan kom.

As gelowiges, neem ons dit nie ernstig op wat ons Here gesê het oor die tem van ons tong nie. Hy het dit 'n hartsaak gemaak. My onverskillige tong doen nie net afbreuk aan al my geestelikheid nie, maar dit openbaar ook aan my dat my hart onrein is.

As ek skinder, ongure grappies vertel, ander mense afjak, my stem verhef en op my familie skree, moet ek myself afvra: “Watter onrein, vuil goed is nog in my opgegaar dat ek so kan praat?”

Ek moet my hart ondersoek en vra: “Waar kom dit vandaan? Daar moet iets wees wat ek nie mee afgereken het nie, anders sou ek nie sulke dinge sê nie. Hoekom hou ek aan skinder? Hoekom uiter ek gemene, onverskillige woorde? Watter onheilige vestings bestaan nog in my hart?”

Jesus het hierdie saak ernstig opgeneem. “Hoe kan julle goeie dinge praat terwyl julle sleg is? Want uit die oorvloed van die hart praat die mond. Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart goeie dinge te voorskyn, en die slegte mens bring uit die slegte skat slegte dinge te voorskyn” (Matthéüs 12:34-35). Jesus het gesê: "As jy onverskillig is met jou tong – stry, kla, murmureer, skinder – het jy 'n ernstige hartprobleem en dit strek baie diep."

As ek toelaat dat iets onreins by my lippe uitkom, moet ek stop en vir die Here sê: “Meester, daar moet nog 'n wortel van sonde in my hart wees. Delf diep in my hart en ruk die wortels van bitterheid, trots, jaloesie of wat dit ook al is uit.” God wil jou help om met elke sonde wat jou in sy greep het af te reken. Al wat jy hoef te doen is om Hom te vra; Hy sal dit uitroei en jou volkome genees.