Stort Jou Hart Uit Voor God

David Wilkerson (1931-2011)

Dikwels skryf mense vir ons en sê: “Ek het niemand om mee te praat nie, niemand om my las mee te deel nie. Niemand het tyd om my weeklag aan te hoor nie. Ek het iemand nodig teenoor wie ek my hart kan uitstort.”

Koning Dawid was omring deur mense. Hy was getroud met 'n groot gesin en het baie metgeselle aan sy sy gehad, maar ons hoor dieselfde geroep selfs van Dawid: "Na wie toe sal ek gaan?" Dit is in ons eie natuur om te wil hê dat 'n ander mens teenwoordig moet wees, na ons moet luister en ons raad gee.

Toe Job oorweldig geraak het deur sy beproewinge, het hy met droefheid uitgeroep: “Ag, as iemand my maar wou aanhoor!” (Job 31:35, AFR53). Hy het hierdie kreet uitgespreek terwyl hy voor sy sogenaamde vriende gesit het wat geen simpatie met Job se probleme gehad het nie. In plaas daarvan, was hulle boodskappers van wanhoop.

In sy droefheid, het Job hom tot die Here gewend. “Selfs nou, kyk, in die hemel is my Getuie; en Hy wat saam met my getuig, is in die hoogtes. My vriende spot met my; uit my oog drup trane tot God” (Job 16:19-20).

In die Psalms het Dawid God se volk aangespoor om dieselfde te doen. “Vertrou op Hom altyd, o volk! Stort julle hart uit voor sy aangesig! God is ‘n toevlug vir ons. Sela” (Psalm 62:8) en “Hardop roep ek die HERE aan, hardop smeek ek die HERE. Ek stort my klagte uit voor sy aangesig; ek maak voor sy aangesig my nood bekend. As my gees in my versmag, dan ken U my pad. Op die pad wat ek moet gaan...Ek roep U aan, o HERE! Ek sê: U is my skuilplek, my deel in die land van die lewendes” (Psalm 142:1-5).

Ek glo in my hart dat hierdie boodskap 'n uitnodiging aan jou van die Heilige Gees is om 'n privaat plek te vind waar jy gereeld jou siel voor die Here kan uitstort. Jy kan met Jesus oor alles praat – jou probleme, jou huidige beproewing, finansies, gesondheid – en vir Hom vertel hoe oorweldig jy voel, selfs hoe moedeloos jy is. Hy sal jou met liefde en simpatie aanhoor en Hy sal jou geroep nie verag nie. Hy het eeue lank die hartskreet beantwoord van almal wat op sy beloftes vertrou het. Net so het Hy belowe om jou te hoor en jou te lei. Voorwaar, Hy het met eed belowe om jou sterkte te wees. Gaan na Hom toe en jy sal vernuwe daar uitkom.