Sodat Ons Christus as Wins Kan Verkry

David Wilkerson (1931-2011)

Paulus was volkome gevange geneem deur sy Heer, en tog skryf hy: “Maar wat vir my wins was, dit het ek om Christus wil skade geag. Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry" (Filippense 3:7-8, AFR53, klem bygevoeg).

Waarom sou hy die behoefte voel om Christus as “wins” te verkry? Christus het Homself reeds duidelik nie net aan die apostel nie, maar ook in sy lewe geopenbaar. Tog voel Paulus verplig om Christus se hart en liefde te wen. Paulus se hele wese - sy bediening, lewe en sy doel met die lewe – was slegs daarop gefokus om sy Meester en Here te behaag. Al die ander was vir hom rommel, selfs “goeie” dinge.

Is dit skriftuurlik, vra jy miskien, hierdie idee om die hart van Jesus te wen? Is ons nie reeds die voorwerpe van God se liefde nie? Sy welwillende liefde strek inderdaad tot by die hele mensdom, maar daar is 'n ander soort liefde wat min Christene ooit ervaar. Dit is 'n toegeneë liefde vir Christus soos wat tussen 'n man en 'n vrou voorkom.

Hierdie liefde word uitgedruk in die Hooglied van Salomo. In daardie boek word Salomo uitgebeeld as ‘n tipe Christus en in een gedeelte, praat die Here van Sy bruid as volg: “U het my hart gesteel, my susterbruid, u het my hart gesteel met een straal van u oë, met een kettinkie van u halssieraad. Hoe skoon is u liefde, my susterbruid, hoeveel beter is u liefde as wyn!” (Hooglied 4:9-10, AFR53).

Die bruid van Christus bestaan uit ‘n heilige volk wat so graag hulle Here wil behaag, so gehoorsaam is en so afgesonder van alle ander, dat Sy hart gesteel sal wees. Die woord gesteel in hierdie gedeelte, beteken “my hart verower.”

Die Bybelvertaling van die bogenoemde gedeelte sê dat Christus se hart verower is met net “een straal” of enkelvoudige blik. Ek glo dat dit dui op ‘n doelgerigte fokus op Christus alleen. Dit is die lewe wat ons geroep is om na te streef!