Gryp God se Plan vir Jou Aan

Gary Wilkerson

Toe ek ses jaar oud was, het ek my pa hoor preek. Daar was ongeveer 7 000 mense bymekaar, amper almal tieners; dit was die Jesus-beweging in die Verenigde State genoem. Hulle was langharige hippies, bendelede en dwelmverslaafdes; en hulle het hierdie arena gevul. Aan die einde van my pa se preek het hy 'n uitnodiging gegee om na Christus te kom en al hulle dwase, goddelose weë te laat staan.

Mense het begin om dagga, sakke heroïen, naalde en selfs gewere op die verhoog te gooi. Hulle het woorde geskree soos: "Ek wil hê my lewe moet verander!"

Ek sal nooit vergeet dat ek dit gesien en vir myself gesê het: “Dit is hoe ek my lewe wil deurbring, om te sien hoe die krag van die Heilige Gees lewens verander. Ek wil  beleef hoe God bindinge breek en mense se harte vrymaak van verslawings en sondes.” Selfs op daardie ouderdom, het ek besef Jesus kan mense vrymaak. Dit het gemaak dat ek my lewe wou deurbring om mense te help en te sien hoe hulle Christus se belofte verwesenlik toe Hy gesê het: “Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê” (Johannes 10:10).

Jy is dalk nou nie op dwelms nie. Jy is dalk nie in 'n bende nie. Jy is dalk nie ’n alkoholis of ’n heroïenverslaafde nie, maar daar is dinge wat jou verhinder om die volle, oorvloedige lewe te hê wat God aan sy kinders belowe. Die Skrif sê: "'n Vervulde wens is soet vir die siel, maar om af te wyk van die kwaad, is 'n gruwel vir die dwase. Gaan met die wyse om, dan word jy wys; maar hy wat met dwase verkeer, versleg” (Spreuke 13:19-20, AFR53).

Dit is heerlik om te sien hoe drome bewaarheid word, maar dwase weier om hulle te bekeer van weë, wat hulle daarvan weerhou om al die dinge wat God vir hulle het, te beërwe. So, hoe neem ons eintlik die volheid van God in ons lewens in besit en hoe wandel ons daarin?

Dissipline. Jy moet konsekwent die hart van God soek en voortdurend na sy stem luister. Moenie in slegte geselskap verval met mense wat jou wegtrek van God se roeping nie. Wees bereid om jouself te verbind tot jou roeping, selfs wanneer jou emosies af is of jou pogings misluk het. Leef God se planne vir jou, sy geskape doel vir jou lewe uit.