Sê Ja vir God se Planne

Gary Wilkerson

Elke keer as die Heilige Gees iets in jou hart plaas en daar 'n vuur in jou siel aangesteek word, is dit gewoonlik omdat God jou roep om met geloof uit jou gemaksone te tree en verby 'n hindernis tot binne-in 'n Beloofde Land te trek.

Elke keer as God jou roep om dit te doen, sal jy skeptici rondom jou hê. Daar sal gewoonlik 'n uiterlike skeptikus wees, 'n demoniese skeptikus van Satan en 'n innerlike skeptikus vanuit jou eie hart. Hulle gaan vir jou allerhande argumente gee teen die plan wat God vir jou het.

Jy sien, die skeptikus probeer altyd om jou weg te lei van gehoorsaamheid aan God se plan as gevolg van probleme, maar soms gebruik God selfs daardie skeptici om ons bewus te maak dat, wanneer ons die land binnegaan, die vyandige nasies nie sal gaan lê, hulle wapens neerlê en sê: "O, ons is lief vir jou, Josua!" nie. As jy God se plan volg, sal daar konflik wees. Daar sal moeilike tye wees, maar jy sal moet vashou aan God se belofte dat jy die land sal besit.

Dit is hoekom God Josua opdrag gegee het deur te sê: “Het Ek jou nie beveel nie: Wees sterk en vol moed, wees nie bevrees of verskrik nie; want die HERE jou God is met jou, oral waar jy heengaan” (Josua 1:9, AFR53).

Miskien glo jy God vir 'n hartsverandering. Jy is al te lank geestelik in die knyp en vandag is jou dag waarin jy in die Beloofde Land vrygelaat word. Daar is sommige van julle wat glo vir 'n wonderwerk in julle lewe, 'n herstelde gesinsverhouding of die redding van iemand wat Jesus nie ken nie. Daar is ander van julle wat in die stryd van julle lewe is in jul besigheid of finansies. Vir sommige, roep God julle in 'n sekere roeping, en julle wonder of julle daardie land sal kan binnegaan en dit sal besit.

Ons sal vandag glo dat God daardie verdedigingslinies sal afbreek. God sal daardie skeptiese idees afbreek en ons help om in geloof te glo dat Hy ons sal neem na daardie land wat Hy aan ons belowe het.

Jy sal dankbaar wees dat jy in die stryd betrokke geraak het, want jy gaan opstaan ​​in die Gees van God; jy gaan die gesag wat God in jou hart geplaas het, in besit neem, en jy sal ja sê vir sy planne.