Roei Sinisme Uit

Gary Wilkerson

Ek het 'n vriend wat ek al twintig jaar ken en hy het 'n wonderlike bediening gehad. Dit het vinnig gegroei. Hy het 'n kantoorgebou gekoop en aangebou. Mense het hulle tot Christus bekeer. Hy het oop deure gehad om regoor die land te preek.

Om en by hierdie tyd, het party van sy gebede begin lyk of dit nie verhoor word nie. Hy het gehoop dat sekere dinge in sy bediening sou plaasvind, maar dit het nie gebeur nie. Daarna het hy en sy span probleme ondervind. Sy nuusbriefgevolg het afgeneem en toe het die skenkings vir sy evangelisasievereniging begin afneem. Hy het al hoe minder uitnodigings ontvang om landwyd te praat.

In plaas daarvan om te sê: “God, U bou op en U breek af. Dit is u bediening, laat u wil daarvoor geskied,” het hy begin bitter word. Elke keer as ek saam met hom vir middagete gegaan het, kon ek hierdie verandering in hom sien.

Uiteindelik het my vriend die bediening heeltemal laat vaar en hy het dit verslane, moedeloos en seergemaak verlaat. Hy het dit met humor probeer vermom, maar hy het so sinies geword dat dit moeilik was om naby hom te wees. Hy het oorgegaan van die geloof dat God groot dinge sou doen tot byna niks meer van God glo nie. Hy is egter nie die enigste een nie. Baie van ons het in verskillende mate toegelaat dat teleurstelling en sinisme in ons harte inkruip.

Daardie helder vuur van geloof wat ons eens in ons harte gehad het, het afgeneem. Die vertroue in 'n God wat kragtig werk en jou kan oprig, het swak geword. Ons moet onthou wat Jesus ons belowe het: “In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou moed, Ek het die wêreld oorwin” (Johannes 16:33, AFR53).

Wanneer ons neergeslaan word en 'n saadjie van sinisme wortel skiet, moet ons onsself tot hierdie vers wend: “En laat ons op mekaar ag gee om tog liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom” (Hebreërs 10:24-25).

Ons moenie toelaat dat bitterheid teenoor God, sy plan in ons lewens laat misluk nie. Ons moet sy beloftes onthou en mekaar aanmoedig om nooit moed te verloor nie.