Die Openbaring van God se Liefde

David Wilkerson (1931-2011)

Een spesifieke keer, was ek deur die Heilige Gees aangeroer en Hy het my na die volgende gedeelte gelei: “Maar julle, geliefdes, moet julleself opbou in julle allerheiligste geloof en in die Heilige Gees bid en julleself in die liefde van God bewaar, terwyl julle die barmhartigheid van onse Here Jesus Christus tot die ewige lewe verwag” (Judas 1:20-21, AFR53). Terwyl ek gelees het, het ek die Gees hoor fluister: “David, jy kom nooit in die volheid van my liefde in nie.”

Die Bybel is vol waarhede oor God se liefde, maar soms veroorloof ek my om te wonder hoe God my ooit kan liefhê. Dit is ‘n mislukking van my kant af om myself in die wete en versekering van sy liefde vir my te bewaar.

Die openbaring van God se liefde kom gedeeltelik wanneer ons weergebore word. As jy vir die meeste Christene sou vra wat hulle weet van God se liefde vir hulle, sou hulle sê: “Ek weet God het sy Seun gestuur om vir my te sterf.” Min Christene weet egter hoe om in God se liefde bewaar te word. Ons weet iets van ons liefde teenoor God; maar as jy vir die meeste Christene sou vra om ‘n Bybelvers te soek oor God se liefde vir ons, sou hulle net ‘n paar kon opnoem.

Menigtes word geestelik koud en lui omdat hulle oningelig is oor die Vader se liefde vir hulle. Hulle weet nie dat hulle grootste wapen teen Satan se aanvalle juis is, om ten volle bewus te wees van God se liefde vir hulle deur die openbaring van die Heilige Gees.

In sy laaste gebed op aarde, het Jesus gesê: “Vader, Ek wil dat...hulle My heerlikheid kan aanskou wat U My gegee het, omdat U My liefgehad het voor die grondlegging van die wêreld ... Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak en sal dit bekend maak, sodat die liefde waarmee U My liefgehad het, in hulle kan wees, en Ek in hulle” (Johannes 17:24,26).

Die implikasie hier is dat toe die Vader Jesus voor die ewigheid liefgehad het, het Hy ons ook liefgehad. “Soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees” (Efésiërs 1:4).

Hoe lank het God jou al lief? Hy het jou lief sedert sy bestaan, want God is liefde. Dit is sy hele natuur. Het jou as ‘n sondaar liefgehad. Hy het jou liefgehad in die moederskoot. Hy het jou liefgehad voordat die wêreld ontstaan het. Daar was geen begin van sy liefde vir jou nie, en daar is geen einde nie.