Erken God se Beloftes

Gary Wilkerson

Ek weet wat dit is om die belofte van God te hoor dat jy 'n oorwinnende, seëvierende lewe sal hê en ek weet wat dit is om daardie belofte nie vervul te sien nie. In daardie oomblikke voel ek verslaan, oorweldig en moedeloos as gevolg van die vyand.

Ek weet wat dit is om die belofte van God te hoor wat sê dat Hy ons die hoogtes en die dieptes en die breedte van sy liefde sal toon, maar aan die ander kant, weet ek ook wat dit is om nog steeds ongeliefd te voel, asof ek God se liefde moet verdien en daarna moet streef om Hom gelukkig met my te maak. Ek ken die beloftes van God dat Hy onuitspreeklike guns aan ons as sy kinders bewys, maar ek weet ook wat dit is om die vraag te vra: “Is Hy regtig vir my? Hy lyk soms ver en koud soos ’n harde slawedrywer.”

Ek weet wat dit is om al hierdie beloftes van God – die oorweldigende vreugde, oorwinning, krag, tevredenheid, vrede, voorspoed, genade en lewe oorvloedig te hê – en ek weet wat dit is om te voel asof ek dit nie in my eie lewe beleef nie. Elke belofte van God is vir my 'n doelwit. Ek wil dit alles hê. Hoeveel van julle sal net die helfte wil hê van wat God belowe het? Hoeveel van julle wil driekwart hê? Hoeveel van julle sal dit alles wil hê?

Spreuke sê: “Uitgestelde hoop maak die hart siek...” Hoeveel van julle ken die volgende deel van daardie skrif sonder om te kyk? Die meeste van ons ken die eerste deel, maar baie van ons besef nie dat die tweede helfte van daardie vers sê: "... maar 'n wens wat uitkom, is 'n lewensboom" (Spreuke 13:12).

Daal die hoop om drome te laat verwesenlik uit die hemel neer? Is dit 'n toegedraaide geskenkpakkie van God, of is daar dinge wat Hy van ons vra, stappe wat ek en jy kan neem om te sien hoe ons hoop verwesenlik word?

Die probleem is nie dat God nie getrou is om sy beloftes na te kom nie. Die probleem is ons vermoë om sy beloftes te verwesenlik deur beginsels en praktyke, toewyding en verbintenisse aan die Here in te sluit wat die vensters van die hemel so te sê oopmaak. Sodra ons harte op die regte plek en aan Christus onderwerp is, kan ons die beloftes van God in ons lewens verwesenlik sien.