Ons God-gegewe Uitkomsplan

David Wilkerson (1931-2011)

God se Woord sê vir ons in baie duidelike woorde: “Jaag die vrede na met almal, en heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie” (Hebreërs 12:14, AFR53).

Dit is doodeenvoudig die waarheid. Sonder die heiligheid wat Christus alleen skenk – 'n kosbare geskenk wat ons gedenk deur 'n lewe te lei wat toegewy is aan gehoorsaamheid aan elke woord – sal niemand van ons die Here sien nie. Dit verwys nie net na die hemel nie, maar ook na ons huidige lewe. Sonder heiligheid sal ons God se teenwoordigheid nie sien in ons daaglikse wandel, ons gesin, ons verhoudings, ons getuienis of ons bediening nie.

Dit maak nie saak hoeveel Christelike konferensies ons bywoon, na hoeveel preke ons luister, by hoeveel Bybelstudies ons betrokke is nie. As ons 'n boesemsonde het, as die Here 'n stryd met ons het oor ons ongeregtigheid, dan sal geen van ons pogings godsvrug oplewer nie. Inteendeel, ons sonde sal net meer aansteeklik word en almal rondom ons besoedel.

Natuurlik gaan hierdie kwessie verder as alle begeerlikhede van die vlees, na 'n bederf van die gees. Paulus beskryf dieselfde vernietigende sonde in hierdie gedeelte as hy sê: “En moenie murmureer soos ook sommige van hulle gemurmureer het nie, en hulle het deur die verderwer omgekom” (1 Korinthiërs 10:10).

Christus het belowe om te keer dat jy struikel en om jou krag te gee om sonde te weerstaan as jy net glo wat Hy gesê het. Dit is alles 'n saak van geloof. Glo Hom vir hierdie goddelike vrees. Bid daarvoor en verwelkom dit. God sal sy woord aan jou nakom. Jy kan nie loskom van die doodsgreep van sonde deur wilskrag of deur enige menslike poging alleen nie. “Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare” (Sagaría 4:6).

Dierbare gelowige, sal jy die Heilige Gees toelaat om af te reken met al die begeertes wat jy koester? Sal jy eerder die uitkoms soek wat God vir jou beskik het?

Ek moedig jou aan om in hierdie laaste dae 'n heilige vrees en vertroue te kweek. Dit sal jou rein hou, ongeag hoe erg goddeloosheid rondom jou woed. Dit sal jou in staat stel om in God se heiligheid te wandel, wat die belofte van sy blywende teenwoordigheid inhou. Amen!