Onwaarneembare Groei in Beproewings

David Wilkerson (1931-2011)

Sommige gelowiges kan vir jou alles van hulle geestelike groei vertel en jy kan duidelik die verandering in hulle lewens sien. Hulle getuig teenoor jou hoe die Heilige Gees die vyand vir hulle oorwin het en jy juig saam met hulle in hulle oorwinning.

Hierdie soort Christene is egter die uitsondering. Die meeste gelowiges is heeltemal onbewus van enige geestelike groei in hulle lewens. Hulle bid, lees die Bybel en soek die Here met hulle hele hart. Daar is in hulle geen struikelblokke vir geestelike groei in hulle nie, maar hulle kan nie enige geestelike groei in hulleself onderskei nie. Ek is ‘n voorbeeld van so ‘n gelowige. Ek weet ek wandel in die geregtigheid van Christus, maar ek beleef nooit dat ek vordering maak nie. Trouens, soms is ek hard met myself wanneer ek iets onchristeliks doen of sê. Ek wonder, “Ek is nou al jarelank ‘n Christen. Waarom leer ek nooit nie?”

Ek dink die Christene in Thessalonika was verstom toe hulle Paulus se skitterende evaluering van hulle gehoor het. “Ons moet God altyd oor julle dank, broeders, soos dit billik is, omdat julle geloof grootliks toeneem en die wederkerige liefde van elkeen van julle almal groter word” (2 Thessalonicense 1:3, AFR53).

Wees gerus dat as jy die vrees van God in jou hart het, gaan jy baie sterker uit die storm kom. Wanneer jy oorlog voer teen die vyand, roep jy al die genades en kragte van God op. En selfs al mag jy verswak voel, versterk daardie genades en kragte jou. Eerstens, word jy dringender in jou gebede. Tweedens, word jy gestroop van alle trots. Die storm is eintlik besig om jou “geestelik waaksaam” op elke gebied van jou lewe te maak!

Paulus het geweet dat geestelike groei ‘n geheime, verborge ding is. Die Skrif vergelyk dit met die onwaarneembare groei van blomme en bome: “Ek sal vir Israel wees soos die dou, hy sal bloei soos ‘n lelie en sy wortels uitslaan soos die Líbanon. Sy lote sal uitsprei, en sy prag wees soos dié van ‘n olyfboom en sy geur soos die Líbanon” (Hoséa 14:6-7).

God sê in wese vir ons, “Gaan na die lelies! Probeer kyk hoe hulle groei. Ek sê vir jou, teen die einde van die dag, sal jy hoegenaamd geen groei sien nie. Maar weet dit: Ek gee die lelie elke oggend water met die dou wat Ek stuur en dit sal groei.” Dieselfde is waar van die meeste geestelike groei. Dit is onwaarneembaar vir die menslike oog!

Wees bemoedig, vriend; ek het goeie nuus vir jou. Jy is besig om te groei in jou stryd. Trouens, jy groei dalk met rasse skrede weens jou stryd.