Ons Verlosser Bid Steeds vir Ons

David Wilkerson (1931-2011)

Ek dink nie enigeen van ons kan die groot konflik wat tans in die geestelike realm woed, verstaan nie. Ons besef ook nie hoe vasbeslote Satan is om alle gelowiges wat hulle smagtende harte onwrikbaar op Christus gevestig het, te vernietig nie.

In ons Geestelike wandel, word ons ‘n bedreiging vir demoniese owerhede en magte die oomblik wanneer ons daardie lyn van gehoorsaamheid aan God se Woord en afhanklikheid van Jesus alleen oorsteek. Die getuienis van elke gelowige wat hulle tot die Here bekeer het met hulle hele hart, sluit die aanslag van vreemde en intense swaarkry in.

In die evangelie van Lukas, stel Jesus hierdie onderwerp van die sifting van die heiliges bekend. “Simon, Simon, kyk, die Satan het vurig begeer om julle soos koring te sif. Maar Ek het vir jou gebid, dat jou geloof nie ophou nie; en as jy eendag bekeerd is, moet jy jou broeders versterk” (Lukas 22:31-32). In Christus se tyd, het graanwerkers ‘n sif gebruik voor hulle graan in sakke gesit het. Hulle het koring met ‘n graaf in ‘n vierkantige houer, wat met ‘n net oorgetrek was, geskep en hard geskud. Die sand en grond sou deur die net val tot net die koringkorrels oorgebly het.

Daar is beproewings en daar is sifting. Ek sien sifting as een groot, volskaalse sataniese aanslag. Dit word gewoonlik in ‘n kort maar baie intense periode ingedruk. Vir Petrus, sou die sifting slegs ‘n paar dae wees, maar daardie dae sou die mees geloofskuddende, skokkende en berouvolle dae van sy lewe wees. Dit kon sy getuienis eens en vir altyd verwoes het.

Dank God, Petrus se geloof het nie opgehou nie. So seker as wat Jesus gebid het dat sy “geloof nie ophou nie”, bid Hy vir ons ook. Die Here gee almal van ons daardie soort liefde!

In ons wandel met God, het ons nog ‘n “Daar staan geskrywe” waarmee ons die stryd kan voer. Dit is die volgende: “Ek het vir jou gebid dat jou geloof nie ophou nie.” Jy kan vir die duiwel sê: “Jy het dalk toestemming om my te sif, om my geloof uitmekaar te trek; maar jy moet weet: My Verlosser bid vir my!”