Ons Het Volledige Toegang

David Wilkerson (1931-2011)

Elke vier jaar in Januarie huldig Amerika 'n president in wat "die magtigste amp op aarde" genoem word. Sy handtekening verander wetsontwerpe in wet. Hy lei die wêreld se magtigste leër. Hy kan bloot 'n knoppie druk en nasies vernietig. Die mag wat hy besit, is niks in vergelyking met die krag wat Jesus aan jou en my gegee het nie!

Ons het toegang tot die teenwoordigheid van die lewende God. "Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus op die nuwe en lewende weg...laat ons toetree met 'n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid" (Hebreërs 10:19-22).

Daardie toegang het eers gekom nadat Jesus gekruisig, gesterf en opgewek is. Dit het gekom op die oomblik toe die voorhangsel in die tempel in twee geskeur het. Toe dit gebeur het, het dit beteken dat die mens kon ingaan, en God sou uitkom. Ons kon Hom nou van aangesig tot aangesig ontmoet!

Die woord "vrymoedigheid" in hierdie vers beteken "met openlike, onverbloemde publisiteit." Geliefdes, daardie "publisiteit" is ter wille van die duiwel. Dit beteken dat ons vir elke demoon kan sê: "Ek het die reg deur die bloed van Jesus Christus om in die teenwoordigheid van God te gaan en met Hom en Hy met my te praat."

Glo jy dat God bereid is om uit te kom en jou te ontmoet? Laat ons tot Hom nader met 'n hart vol geloofsversekerdheid. Ons kom nie deur die bloed van diere nie maar deur die bloed van ons Here Jesus. “Ook nie met die bloed van bokke en kalwers nie, maar met sy eie bloed, een maal ingegaan in die heiligdom en ‘n ewige verlossing teweeggebring. Want as die bloed van stiere en bokke en die as van ‘n vers wat die verontreinigdes besprinkel, heilig maak tot reiniging van die vlees, hoeveel te meer sal die bloed van Christus, wat Homself deur die ewige Gees aan God sonder smet geoffer het, julle gewete reinig van dooie werke om die lewende God te dien?” (Hebreërs 9:12-14).

Niks verbly die hart van God meer as wanneer sy kinders met vrymoedigheid, sonder vrees, na Hom toe kom. Hy wil hê ons moet kom en sê: “Ek het die reg om hier te wees. Al veroordeel my hart my, God is groter as my hart! (sien 1 Johannes 3:20).