Ongeloof Maak van God ‘n Leuenaar

David Wilkerson (1931-2011)

“Hy wat God nie glo nie, het Hom tot leuenaar gemaak, omdat hy die getuienis nie geglo het wat God aangaande sy Seun getuig het nie” (1 Johannes 5:10, AFR53).

Beskou al die gruwelike sondes wat teen Israel in die woestyn opgenoem word: murmurering, afgodery, opstandigheid, sensualiteit en meer. Dit is 'n lang lys, maar nie een hiervan het God se toorn ontlok nie. Dit was hulle ongeloof wat God kwaad gemaak het. 

“Daarop het die HERE aan Moses gesê: Hoe lank sal hierdie volk My verag? En hoe lank sal hulle in My nie glo nie, ondanks al die tekens wat Ek onder hulle gedoen het?” (Númeri 14:11). God het gesê: “Hierdie mense maak 'n leuen uit alles wat Ek vir hulle gedoen het. Wanneer sal hulle ooit op My vertrou en in My rus?” 

Vir agt-en-dertig lange jare het Israel God se woord vergeet en sy wonderwerke verwerp. Uiteindelik, omdat hulle herhaaldelik afvallig was en teruggeval het in murmurering en ongeloof het God gesê: “Ek sal hulle met die pes tref en hulle uitroei” (Númeri 14:12). Hy het in wese vir Moses gesê: “Ek is moedeloos met my volk, want hulle wil My nie vertrou nie.” 

Toe Israel aan die oorwinnende kant van die Jordaan was, het Moses plegtig verklaar: “Kyk, die HERE jou God het die land aan jou oorgegee; trek op en neem dit in besit... Word nie verskrik en wees nie bevrees vir hulle nie. Die HERE julle God wat voor julle uit trek, Hy sal vir julle stry... Maar ondanks hierdie woord het julle nie geglo in die HERE julle God nie...En toe die HERE die stem van julle woorde hoor, het Hy toornig geword en gesweer en gesê: Waarlik, geeneen van hierdie manne, hierdie verkeerde geslag, sal die goeie land sien wat Ek met ‘n eed beloof het om aan julle vaders te gee nie” (Deuteronómium 1:21, 29-30, 32, 34-35)

Dink aan al die dinge wat God vir jou gedoen het: Hy het jou bewaar, jou gebede verhoor, jou in krisisse tegemoet gekom, jou deur beproewinge gedra, vir jou gesorg op maniere wat niks minder as wonderbaarlik is nie. 

Nogtans is ons bekommerd en kwel ons, want ons sien Hom nie dadelik doen wat ons dink Hy vir ons moet doen nie. Wanneer God se Woord nie ons siele anker nie, wanneer ons wonderlike beloftes hoor en dan optree asof ons verlaat is, maak ons van God 'n leuenaar. Wanneer ons in ongeloof leef, beroof ons onsself van sy seëninge en genade.