Om vir Beloftes deur Geloof te Wag

David Wilkerson (1931-2011)

As God vir die mensdom sê: “Glo”, dan vra Hy iets wat heeltemal buite rede is. Geloof is totaal onlogies. Die definisie daarvan het te doen met iets onredeliks. Die Skrif sê vir ons: “Die geloof dan is ’n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ’n bewys van die dinge wat ons nie sien nie” (Hebreërs 11:1, AFR53). Daar word kortliks aan ons gesê: "Daar is geen tasbare dinge, geen sigbare bewyse nie." Ten spyte hiervan word ons gevra om te glo.

Ek spreek hierdie onderwerp aan om 'n belangrike rede. Op die oomblik, oor die hele wêreld heen, is menigte gelowiges neergetrokke van moedeloosheid. Trouens, ons almal sal aanhou om moedeloosheid in hierdie lewe te beleef, tog glo ek as ons die onlogiese, onredelike aard van geloof verstaan, sal ons die hulp kry wat ons nodig het om deur te kom.

Dink aan die geloof wat van Simeon gevra is. “En daar was 'n man in Jerusalem met die naam van Símeon; en hierdie man was regverdig en vroom en het die vertroosting van Israel verwag, en die Heilige Gees was op hom. En aan hom was dit deur die Heilige Gees geopenbaar dat hy die dood nie sou sien voordat hy die Christus van die Here gesien het nie” (Lukas 2:25-26, AFR53). Die Messias is sedert die begin van Génesis aan God se volk belowe, en die laaste rekord van God wat met die profete gepraat het voor Jesus se geboorte was 400 jaar vroeër.

Simeon was teen hierdie tyd 'n ou man, en hy moes ‘n stryd gehad het of hy God reg gehoor het. Wat God van jou vra, klink dalk onredelik. Hy vra dat ons hom vertrou wanneer Hy geen bewyse gee dat Hy ons gebed verhoor nie, wanneer die situasie hopeloos lyk en ons seker is dat dit alles verby is.

Simeon het vasgehou aan geloof, en toe hy die baba Christus in sy arms gehou het, het God hom nog 'n gawe gegee: 'n bonatuurlike begrip van Jesus se sending. “Nou laat U, Here, u dienskneg gaan in vrede volgens u woord, omdat my oë u heil gesien het wat U berei het voor die oë van al die volke —'n lig tot verligting van die nasies en tot heerlikheid van u volk Israel” (Lukas 2:29-32, AFR53)

Die Here sê vir ons: "Vertrou my." Onlogies? Ja, maar vir eeue het die Here bewys dat Hy altyd betyds is. God kom altyd deur met perfekte Heilige Gees tydsberekening.