Om die Stem van God te Ken

David Wilkerson (1931-2011)

Diegene wat God werklik ken, het geleer om sy stem te herken. Ek glo dat drie dinge vereis word van hulle wat God se stem sou hoor:

1. Onwrikbare vertroue dat God met jou wil praat. Jy moet volkome oorreed en oortuig wees hiervan. Trouens, Hy wil hê jy moet sy stem ken sodat jy sy wil kan doen. Wat God vir ons sê, sal nooit buite die perke van die Skrif gaan nie.

2. Kwaliteit tyd en stilte. Jy moet gewillig wees om jouself met God af te sonder en alle ander stemme te laat wegval. Dit is waar, God praat heeldag met ons, maar wanneer Hy ook al iets in my lewe wou bou, het sy stem slegs gekom nadat ek alle ander stemme behalwe syne uitgesluit het.

3. Vra met geloof. Ons kry niks van God nie, insluitend sy stem, tensy ons werklik glo dat Hy in staat is om sy gedagtes aan ons oor te dra en ons in staat te stel om sy volmaakte wil te ken. Ons moet ook glo dat die Gees vir ons intree wanneer ons nie weet hoe om vir onsself of vir ‘n sekere situasie te bid nie (sien Romeine 8:26-27).

God terg nie. Hy wil hê dat jy oortuig moet wees dat Hy begeer om met jou te praat en vir jou dinge te vertel wat jy nog nooit tevore gehoor het nie. Hy sal nie toelaat dat die vyand jou mislei nie. “Maar hy wat by die deur ingaan, is ‘n herder van die skape. Vir hom maak die deurwagter oop, en die skape luister na sy stem; en hy roep sy eie skape by hulle naam en lei hulle uit. En wanneer hy sy eie skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit; en die skape volg hom, omdat hulle sy stem ken. Hulle sal ‘n vreemde nooit volg nie, maar van hom wegvlug, omdat hulle die stem van die vreemdes nie ken nie” (Johannes 10:2-5, AFR53). Wanneer God praat, volg vrede, en Satan kan nie daardie vrede namaak nie.

God het gesien wat jou hartseer en behoeftes sou wees. Hy het vooruit geweet wat jy nodig sou hê om al jou probleme op te los. Hy het nie sy antwoorde toegedraai en verberg nie.