Nora en die God wat Sien

Gary Wilkerson

Sy het ingekom met suurbrandmerke in haar gesig en haar afgekapte hand vasgehou. Die dorpie se dokter het haar een kyk gegee: “Ons kan jou nie help nie want ons dink jy gaan sterf. Dit is slegte karma as jy in die dorp sterf omdat jou gees by die hospitaal sal spook”.

Hierdie woorde kom nie uit ‘n storieboek nie; dit is geuiter deur ‘n pragtige jong vrou wat oorkant my gesit en haar lewensverhaal vertel het. Haar naam is Nora.

Nora is in Kambodja gebore en grootgemaak as ‘n Buddhis. Ons het haar leer ken deur die stigter van Girl’s House of Refuge in Phnom Phen. Hierdie wonderlike bediening neem meisies van die strate af in en versorg hulle, verskaf veiligheid, regshulp, opleiding en die belangrikste van alles, die transformerende liefde van Jesus Christus. Nora was hierheen gebring deur haar niggie, wat ook daar gewoon het.

Nora se lewe van armoede het haar laat beland in ‘n gewelddadige verhouding met ‘n besigheidsman, ‘n leier in hulle dorpie aan wie die owerhede niks kon doen nie. Hy het haar herhaaldelik agtervolg en haar ontvoer en misbruik as hy haar in die hande gekry het. Uitendelik, het hy haar eendag ingewag. Toe sy aankom, het hy batterysuur in haar gesig gegooi, haar kop met ‘n slagmes gesteek, haar hand afgekap en haar vir dood agtergelaat.

Nora onthou duidelik hoe sy daar gelê en gefluister het: “God, help asseblief u kind. Asseblief”. Daar was sy, alleen met ‘n God wat sy nie eers geken het nie, maar na wie haar gees uitgeroep het. Op daardie oomblik, het sy gesê: “Daar was ‘n lig en iets het my opgelig” en sy het dadelik geweet Jesus was by haar. Sy het gedoen soos Hagar, die ongeliefde byvrou van Abram: “Toe noem sy die Naam van die HERE wat met haar gespreek het: U is ‘n God wat sien...Het ek hier ook gesien na Hom wat my sien” (Génesis 16:13, AFR53).

Met ontsettende pyn, het Nora wonderbaarlik haar pad na die dorpie gevind waar die bygelowige dokter haar weggewys het. Sy was amper dood, maar God het ander planne gehad. Deur sy genade, het sy uiteindelik reggekry om hulp te kry en was na die hospitaal in Phnom Penh geneem.

Vandag woon Nora by die Girl’s House of Refuge en vertel haar storie van hoop vir ander vroue. Haar hand kon ongelukkig nie gered word nie, maar haar gesig het wonderbaarlik herstel van die suurbrandmerke. Sy straal, is ‘n dogter van die Koning en kosbaar in sy oë.