Na Christus Gebring

David Wilkerson (1931-2011)

Die Here het groot blydskap dat die kruis aan ons vrye toegang tot Hom gegee het. Trouens, die glorierykste oomblik in die geskiedenis was toe die tempelvoorhangsel in twee geskeur het op die dag toe Christus gesterf het. Op daardie oomblik het die aarde gebewe, die rotse het geskeur en die grafte was oopgemaak.

Dit was juis op hierdie oomblik dat die voordeel vir God te voorskyn gekom het. Op die oomblik toe die tempelvoorhangsel – wat die mens van God se heilige teenwoordigheid skei – uitmekaar geskeur is, het iets fenomenaal gebeur. Van daardie oomblik af, kon die mens nie net in die Here se teenwoordigheid ingaan nie, maar God kon na die mens uitkom.

Voor die kruis was daar geen toegang tot God vir die algemene publiek nie; net die hoëpriester kon in die Allerheiligste ingaan. Nou het Jesus se kruis vir ons 'n pad na die Vader se teenwoordigheid gemaak. Hy wat eens in "dik duisternis" gewoon het, het nie gewag dat ons na Hom toe kom nie, maar Hy het na ons toe uitgekom. God self het die inisiatief geneem en Christus se bloed het alle hindernisse uit die weg geruim. Dit was 'n eensydige skuif van die Here se kant af, die soort wanneer een party sê: "Dis nou genoeg. Ek gaan vrede maak. Ek gaan hierdie muur van skeiding afbreek.” Deur sy genade alleen het God die muur afgebreek wat ons van sy teenwoordigheid af weggehou het. Nou kan Hy by die mens uitkom, om sy verlore kinders te omhels.

Jy kan nie blydskap en vrede kry nie – ja, jy kan nie weet hoe om die Here te dien nie – totdat jy sy behae in jou verlossing verstaan, totdat jy die blydskap van sy hart oor sy gemeenskap met jou beleef, totdat jy sien dat elke muur verwyder was by die kruis, totdat jy weet dat alles van jou verlede geoordeel en weggevee is. God sê: "Ek wil hê jy moet aanbeweeg na die volheid wat in my teenwoordigheid op jou wag!"

Menigtes is vandag bly oor die wonderlike voordele van die kruis. Hulle het uit slawerny beweeg en hulle staan ​​aan die oorwinningskant van hul beproewing. Hulle geniet vryheid. Hulle dank God voortdurend dat Hy hulle onderdrukkers verslaan het, maar baie van hierdie gelowiges mis God se groter doel en voordeel vir hulle. Hulle begryp nie hoekom die Here hulle uitgebring het nie, dit is om hulle by Homself in te bring.