Is My Hart Krities of Oordeelkundig?

Gary Wilkerson

Kritiek is nie een van die vrugte van die Gees nie. Om ’n kritikus te wees is vir mense wat gaan fliek en betaal word om iets in koerante te skryf. Om krities of veroordelend teenoor ander gelowiges te wees, is 'n mentaliteit wat jou net beperk.

Daar is tye wanneer ons agterkom dat iets anders is aan ander en dan kan ons krities raak oor mense of situasies wat ons nie verstaan ​​nie. Jy sal dalk agterkom dat jy in 'n gees wandel wat uit woede, jaloesie, selfsug of trots kom. Neem byvoorbeeld die dissipels. “En Johannes het geantwoord en gesê: Meester ons het iemand gesien wat in u Naam die duiwels uitdryf; en ons het hom belet, omdat hy U nie saam met ons volg nie. Maar Jesus sê vir hom: Moet hom nie belet nie, want wie nie teen ons is nie, is vír ons” (Lukas 9:49-50, AFR53). Wanneer jy daardie soort oordeel oor mense vel, doen jy jouself net soveel skade aan as vir hulle.

Wel, wat van oordeelkundig wees? Die Bybel is ook duidelik hieroor. “Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan” (1 Johannes 4:1).

Daar is 'n regverdige oordeel waaroor ons moet praat wanneer dit kom by teologie, leefstyl en Bybelse praktyke. “Laat niemand julle met ydel woorde verlei nie, want daardeur kom die toorn van God oor die kinders van die ongehoorsaamheid. Wees dan nie hulle deelgenote nie. Want vroeër was julle duisternis, maar nou is julle in die lig in die Here – wandel soos kinders van die lig. Want die vrug van die Gees bestaan in alle goedheid en geregtigheid en waarheid. En beproef wat die Here welbehaaglik is; en hou nie gemeenskap met die onvrugbare werke van die duisternis nie, maar bestraf dit liewer” (Efésiërs 5:6-10).

‘n Oordeelkundige hart kan regverdige woede teen die bose hê, maar dit is nie trots soos 'n kritiese hart nie. 'n Kritiese persoon vestig die aandag op die duisternis om homself slim of bewonderenswaardig te laat lyk. 'n Mens met onderskeidingsvermoë sien iets wat nie reg is met God nie en laat daardie boosheid nie vrylik verbygaan nie.

Wanneer ons teen iemand of iets wil praat, moet ons eers ons harte ondersoek en kyk of ons krities of oordeelkundig is. Kritiek is toegedraai in trots, minagting of verdediging. Goeie oordeel is altyd besorgd oor dit wat God behaag.