Maak Gereed om te Sterf

David Wilkerson (1931-2011)

Met die maak van die nuwe verbond het God Homself met 'n eed verplig om die bemagtigende krag en sterkte te verskaf om alle voorwaardes en eise van die verbond te vervul. Wanneer God onder eed sê: "Ek sal dit doen", antwoord geloof in ons: "Laat dit so wees". 

Kom ek wys vir jou 'n wonderlike waarheid uit die nuwe verbond. Dit dui daarop dat die Here nooit naby genoeg aan sy kinders kan kom nie en dat Hy hulle nooit so naby kan bring as wat Hy wil nie. Daarom verenig en vorm Hy ons met en na Homself met hierdie bindende ooreenkoms. Die nuwe verbond handel alles oor ons Here se toewyding om te keer dat sy kinders afvallig raak en om ons te troos, gerus te stel en te verseker dat die mag en heerskappy van sonde verbreek kan en sal word deur die Heilige Gees wat in ons woon. 

Hierdie waarheid is die enigste hoop vir daardie gelowiges wat moed verloor het in hul stryd teen 'n onheilspellende sonde. Slegs deur die nuwe verbond aan ons te openbaar, kan ons die geheim leer om totale oorwinning oor sonde te hê. 

Die dood is die enigste uitweg uit die ou verbond en na die nuwe. Vleesgeloof moet sterf. Geen strewe meer om te glo nie. As ek geloof wil hê – ware geloof, die geloof van Christus – moet Hy dit vir my gee. Ons is 'n mate van geloof gegee, maar as dit waar is dat ek niks uit myself kan doen nie, dan sluit dit in om goddelike geloof te hê. Dit is hoekom die Skrif dit “die geloof van Christus” noem. 

Is jy sonde-siek? Smag jy werklik daarna om 'n heilige lewe te lei, vry van die gewoonte begeerlikhede van die vlees? Maak gereed om te sterf. Maak gereed om die kruis te omhels. Die ou verbond sal jou raadop maak en by niks uitbring nie. Wanneer jy alle hoop verloor het om sonde te oorwin deur jou eie menslike krag en wil, dan is jy gereed om die heerlike ryk van lewe en vryheid te betree deur die nuwe verbond. 

Want die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus het my vrygemaak van die wet van sonde en dood” (Romeine 8:2, AFR53).