Die Here van Bonatuurlike Verlossing

David Wilkerson (1931-2011)

Dink aan Israel se bonatuurlike verlossing uit Egipte in die Bybel. Terwyl God se volk op droë grond deurgegaan het, het hulle gesien hoe golwe op hul vyande agter hulle neerstort. Dit was 'n glorieryke oomblik en hulle het 'n magtige lofbyeenkoms gehou met dans, sang en danksegging. “Ons is vry! God het ons verlos uit die hand van onderdrukking.”

Israel se verhaal verteenwoordig ons eie verlossing uit die slawerny en skuld van sonde. Ons weet dat Satan aan die kruis verslaan is en dat ons onmiddellik bevry is van sy ystergreep. Daar is egter meer aan God se doel om ons te red en te verlos. God het nooit bedoel dat Israel daar aan die oorwinningskant van die Rooisee moes kampeer nie. Sy groter doel om hulle uit Egipte uit te lei, was om hulle na Kanaän, sy land van oorvloed, te neem. Kortom, Hy het hulle uit slawerny verlos om hulle in sy hart en in sy liefde in te bring. Hy wou 'n volk hê wat volkome afhanklik was van sy barmhartigheid, genade en liefde. Dieselfde geld vandag nog vir sy kinders.

Israel se eerste toets het net 'n paar dae later gekom, en hulle het op die ou end vol ontevredenheid gemurmureer en gekla. Waarom? Hulle het God se verlossing beleef, maar hulle het sy groot liefde vir hulle nie verstaan nie.

Hier is die sleutel tot hierdie lering: Jy kan nie blydkap en vrede kry – trouens, jy sal nie weet hoe om die Here behoorlik te dien nie – totdat jy sy behae in jou verlossing sien ... totdat jy die blydskap van sy hart sien oor sy gemeenskap met jou ... totdat jy sien dat elke skans aan die kruis verwyder is ... totdat jy weet dat alles in jou verlede geoordeel en uitgewis is. God sê, "Ek wil hê dat jy moet oorgaan na die volheid wat in my teenwoordigheid op jou wag!"

Menigtes verheug hulle vandag oor die wonderlike voordele van die kruis. Hulle het uit Egipte getrek en staan aan die "oorwinningskant" van hul Rooisee-beproewing. Hulle geniet vryheid en dank God voortdurend dat Hy hul onderdrukker in die see gewerp het.

Baie van hierdie gelowiges mis God se groter doel en voordeel vir hulle. Hulle mis waarom die Here hulle uitgelei het, dit wil sê om hulle in Homself in te bring. Hy is waar die uiteindelike blydskap, bevrediging en doel van ons lewens gevind kan word.