‘n Lewe Wat Volkome op God Vertrou

David Wilkerson (1931-2011)

Daar is nie net een formule om volkome afhanklik van die Here te leef nie. Al wat ek jou kan bied, is wat God my op hierdie gebied geleer het. Hy het my twee maniere gewys waarop ek Hom volle beheer moet gee.

Eerstens, moet ek oortuig wees dat die Here gretig en gewillig is om sy wil aan my bekend te maak, selfs in die kleiner besonderhede van my lewe. Ek moet glo dat die Gees wat in my woon, God se wil vir my ken en dat Hy my sal lei en met my sal praat. “Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig. Hy sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig” (Johannes 16:13-14, AFR53).

Miskien is jy tans in die middel van een of ander teëspoed, miskien een wat deur 'n haastige besluit veroorsaak is. Desondanks belowe die Here jou: “Jou innerlike oor sal hoor hoe my Gees met jou praat: ‘Gaan daardie kant toe. Doen dit. En moenie dit doen nie ...’''

Tweedens moet ons met onwrikbare geloof bid vir krag om God se leiding te gehoorsaam. Die Skrif sê: “Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat , is soos ‘n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word. Want dié mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie” (Jakobus 1:6-7). Wanneer God vir ons sê om iets te doen, het ons krag nodig om koers te hou en hom ten volle te gehoorsaam.

Baie van ons bid: “Here, ek weet wat U vir my gesê het, maar ek is nog steeds nie seker dat dit u stem was wat gepraat het nie. Ek is nie seker dat ek geestelik genoeg is om U stem te herken nie. Maak asseblief net die deur vir my oop of toe oor hierdie saak.”

Dit is nie die geloofsreaksie wat Hy van sy kinders wil hê nie. Jy kan vir ure of selfs dae op 'n slag bid, maar as jy nie met die geloof bid dat die Heilige Gees jou sal lei soos Jesus beloof het nie, sal die gedagtes van God nooit aan jou oorgedra word nie. Hy wag totdat Hy sien dat jy toegewyd is om wat Hy ook al sê te aanvaar en om dit sonder twyfel te gehoorsaam.

Vertrou dat God met sy kinders praat, en volg dan sy leiding sodra jy dit ontvang. Dit is hoe ons met volle vertroue op God leef.