Ken, Glo En Vertrou

David Wilkerson (1931-2011)

Enigeen kan sy blydskap behou wanneer hy vreugde in die Heilige Gees ervaar en nie beproef of versoek word nie. God wil hê ons moet te alle tye in Sy liefde bly, veral tydens ons beproewings en versoekings.

Die apostel Johannes leer ons baie eenvoudig hoe ons onself in God se liefde kan bewaar: “En ons het die liefde wat God tot ons het, leer ken en geglo. God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom” (1 Johannes 4:16, AFR53). Die woord “bly” beteken hier “om in ‘n toestand van afwagting te wees.” Met ander woorde, God wil hê ons moet verwag dat sy liefde vir ons nuut sal wees elke dag. Ons moet elke dag leef in die wete dat God ons nog altyd liefgehad het en ons ook vir altyd sal liefhê.

Die meeste van ons fladder in en uit God se liefde na gelang van ons emosionele op-en-af buie. Ons voel slegs veilig in sy liefde as ons goed gedoen het, maar ons is onseker van sy liefde wanneer ons versoek word of Hom teleurgestel het.  Dit is veral dan wanneer ons op sy liefde moet vertrou.

Jeremia 31 bied ons ‘n wonderlike illustrasie van God se liefde. Israel was in ‘n afvallige toestand. Die volk het vet en voorspoedig geword, en hulle was betrokke by allerhande goddelooshede. Skielik het hulle welluste begin suur word. Hulle het alle plesier in sensuele aptyte verloor. Toe het hulle uitgeroep: “U het my getugtig en ek het my laat tugtig soos ‘n ongeleerde kalf. Bekeer my dan, dan sal ek my bekeer, want U die HERE my God. Want nadat ek tot inkeer gekom het, het ek berou gehad: en nadat ek tot insig gekom het, het ek op die heup geslaan; ek het beskaamd gestaan, ja, ook in die skande gekom, omdat ek die smaad van my jeug dra” (Jeremia 31:18-19).

Luister na God se reaksie teenoor Israel. “Want so dikwels as Ek teen hom spreek, dink Ek nog altyd aan hom; daarom is my ingewande oor hom in beroering; Ek sal My sekerlik oor hom ontferm” (Jeremia 31:20).

God het in wese aan sy volk gesê: “Ek moes julle tugtig en met harde woorde die waarheid tot julle spreek. Selfs tóé het julle teen My gesondig en dit ten spyte van die barmhartigheid en genade wat Ek aan julle verleen het. Julle het teen my liefde gedraai en My verwerp. Nogtans, was my hart van medelye diep aangeraak teenoor julle. Ek het julle onthou in julle worsteling en sal julle sekerlik genadig wees. Ek sal julle vrylik vergewe en herstel.”