Ken die Stem van God

David Wilkerson (1931-2011)

God wil hê ons moet weet dat, maak nie saak hoe moeilik dinge vir ons mag raak nie, Hy sal almal onderhou wat op Hom vertrou deur die krag van sy sagte, rustige stem, wat daagliks met ons innerlike mens praat. Dit word deur die profeet Jesaja bevestig. Jy moet begryp dat Jesaja hierdie boodskap in die swaarste tye aan Israel oorgedra het. Die volk was onder veroordeling en absolute ondergang met alles wat in duie gestort het.

Jesaja het vir Israel se leiers gesê: “Bekeer julle nou tot die Here!”, maar hulle wou nie luister nie. Hulle het besluit dat hulle hul tot Egipte sou wend om hulle te verlos. Hulle het gedink hulle kan staatmaak op die Egiptenare se strydwaens, perde en voorrade om hulle deur te dra.

Ten spyte hiervan, het God nie op daardie stadium sy hele oordeel oor Israel gestuur nie. Hy het eerder besluit om geduldig te wag totdat elke plan op niks uitgeloop het. Die Skrif sê: “En daarom sal die HERE met ongeduld daarop wag om julle genadig te wees, en daarom sal Hy Hom verhef om Hom oor julle te ontferm; want die HERE is 'n God die gerig. Welgeluksalig almal wat op Hom wag” (Jesaja 30:18).

Alles het wel misluk en dinge het net erger geword vir die volk. Uiteindelik, toe al hulle planne platgeloop het, het Jesaja vir die volk gesê: “En jou ore sal 'n woord agter jou hoor wat sê: Dit is die weg, wandel daarop!  wanneer julle regs of wanneer julle links wil gaan” (Jesaja 30:21, AFR53). God het basies gesê: “Laat Ek nou oorneem! Maak julle ore oop en Ek sal met julle praat. Ek ken die uitweg en Ek sal julle die pad aanwys. Ek wil al julle bewegings lei, na regs en na links, om julle te verlos. Ek sal julle lei deur my stem wat met julle praat, julle vertel wat om te doen, tot in die fynste detail!”

Wat saak maak, is dat jy die stem van God leer ken. Hy praat nog steeds. Hy het dit duidelik gemaak: "My skape ken my stem." Daar is vandag baie stemme in die wêreld, harde, veeleisende stemme; maar daar is daardie kalm, sagte stem van die Here wat geken en gehoor kan word deur almal wat vertrou wat Jesus gesê het.