Is Jy ‘n Barmhartige Mens?

David Wilkerson (1931-2011)

Is jy 'n barmhartige mens? Die meeste van ons sou antwoord: “Ek dink ek is barmhartig. Ek voel die pyn van my broers en susters in Christus wat ly en ek probeer hulle help. Ek doen my bes om my naaste in nood by te staan. Wanneer mense my seermaak, vergewe ek hulle en koester nie ’n wrok nie.”

Ek glo alle ware Christene het 'n groot mate van barmhartigheid vir die verlorenes en lydendes. Ek dank God daarvoor. Die hartseer waarheid is egter dat God se Woord diep wortels van vooroordeel in baie van ons blootlê. Daar is baie mense teenoor wie groot getalle Christene God se barmhartigheid beperk. Ek dink aan prostitute wat in goddelose bordele werk, mense wat by die duisende sterf aan vigs, homoseksuele wat eindelose hartseer en geestelike angs verduur in die beproewinge van hul lewens en mense wat hulself in die vergetelheid in drink om hul pyn te probeer bedek.

Van wat ek in die Skrif lees, sal my Verlosser nooit die desperate kreet van 'n prostituut, homoseksueel, dwelmverslaafde of alkoholis wat raadop is, van die hand wys nie. Sy barmhartigheid is onbeperk; daar is geen einde daaraan nie. Die Bybel stel dit duidelik: “Here, U barmhartighede is menigvuldig; maak my lewend volgens u belofte” (Psalm 119:156, AFR53) en “Genadig en barmhartig is die Here, lankmoedig en groot van goedertierenheid. Die Here is goed vir almal, en sy barmhartighede is oor al sy werke” (Psalm 145:8-9), sowel as baie ander gedeeltes wat van God se barmhartigheid praat.

Daarom, as sy kerk – Christus se verteenwoordigende liggaam op aarde – kan ons niemand weier wat om genade en verlossing roep nie.

Ons is dalk nie eers bewus van hierdie innerlike vooroordele nie totdat dit skielik opduik en ons konfronteer met die waarheid van wat in ons harte is. Terwyl jy dit in jou eie lewe beskou, vra ek jou weer, is jy 'n barmhartige mens, teer en liefdevol? Vra diegene rondom jou – jou familie, kollegas, bure, vriende van 'n ander kleur – en kyk hoe hulle reageer.

Christus het sy volgelinge belowe: “Salig is die wat honger en dors na geregtigheid, want hulle sal versadig word. Salig is die barmhartiges, want hulle sal barmhartigheid bewys word. Salig is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien” (Matthéüs 5:6-8). Laat ons daardie seëninge ons s'n maak en God se barmhartigheid aan die wêreld betoon.