‘n Reis se Onverwagte Stoppe

Carter Conlon

Toe Josef 'n jong seun was, het hy 'n groot belofte van God ontvang. God het deur drome aan Josef geopenbaar dat hy 'n leier met groot invloed sou word. Nie net dit nie, Josef was ook bo al sy broers voorgetrek deur sy vader wat hom 'n veelkleurige kleed gegee het.

'n Teken van onvolwassenheid was op daardie stadium egter nog deel van Josef. Hy was nogal grootpraterig terwyl hy die drome wat hy gehad het met sy gesin gedeel het. “Ook het Josef 'n droom gehad wat hy aan sy broers vertel het. Daaroor het hulle hom nog meer gehaat. Hy het naamlik vir hulle gesê: Hoor tog hierdie droom wat ek gehad het. Kyk, ons was besig om gerwe te bind op die land toe meteens my gerf gaan staan en ook regop blý staan, terwyl julle gerwe daar rondom kom en hulle voor my gerf neerbuig. Toe sê sy broers aan hom: Wil jy miskien oor ons regeer? of wil jy miskien oor ons heers? En hulle het hom nog meer gehaat oor sy drome en oor sy woorde” (Génesis 37:5-8, AFR53).

Josef het steeds 'n gebrek aan begrip gehad rakende die doel van God se krag en voorsiening. In gretige afwagting om te sien hoe God se belofte vervul word, het hy nagelaat om te besef dat daar onverwagte stoppe langs die reis sou wees. Die eerste stop? 'n Put en 'n plek van verlating en verraad.

Uit jaloesie het Josef se broers hom in 'n put gegooi en hom uiteindelik vir twintig silwerstukke aan 'n groep Ismaelitiese handelaars verkoop. Watter groter verraad kon Josef beleef het? Ek dink nie ons kan sy pyn ten volle begryp nie. Hoe diep moes dit sy hart seergemaak het om te weet dat hierdie verraad aan die hand van sy eie broers gedoen is. Verraad is dalk een van die moeilikste lesse waardeur ons in die lewe moet gaan. Tog moet ons onthou dit is ook die pad wat Christus gestap het, so ons kan nie verwag om dit vry te spring nie.

Ek verstaan ​​dat hierdie dinge baie diep kan seermaak. Die ergste wonde wat toegedien word, is deur mense vir wie jy oor die jare liefgeword en vertrou het. Miskien het jy, soos Josef, iets gedeel wat God vir jou gegee het, net om te ontdek dat sommige mense wat na aan jou was nie in jou droom geglo het nie of aktief daarteen gewerk het.

In tye soos hierdie moet ons vashou aan die wete dat God se voorsiening vir 'n visie wat Hy ons gegee het, ook verraad en lyding insluit. Hy weet presies wat ons nodig het om te groei tot in die visie wat Hy vir ons gegee het.

Carter Conlon het aangesluit by die pastorale personeel van Times Square Kerk in 1994 en was aangestel as Senior Pastoor in 2001. In Mei 2020 het hy oorgegaan in ‘n voortgesette rol as Algemene Opsiener van Times Square Church, Inc.