Jesus Terug Liefhê

David Wilkerson (1931-2011)

Laat my jou een van die kragtigste verse in die hele Skrif gee. Spreuke gee ons hierdie profetiese woorde van Christus: “Toe was ek ‘n kunstenaar langs Hom, en ek was dag vir dag vol verlustiging en het gespeel voor sy aangesig altyd, en het gespeel op sy wêreldrond, en my verlustinge was met die mensekinders” (Spreuke 8:30-31, AFR53).

Geliefdes, ons is die mensekinders wat hier genoem word. Van die vorming van die aarde af, het God ‘n liggaam gelowiges gesien wat verbind is aan sy Seun. Selfs die Vader het Hom in hierdie mensekinders verlustig en gejuig. Jesus het getuig: “Ek was my Vader se verlustiging, en die blydskap van sy wese, en nou is almal wat hulle tot My bekeer in geloof, ook sy verlustiging.”

So, hoe het ons Jesus terug lief? Johannes antwoord: “Hieraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet: wanneer ons God liefhet en sy gebooie bewaar. Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie” (1 Johannes 5:2-3).

Wat is sy gebooie? Die evangelie sê: “En een van julle, ‘n wetgeleerde, het ‘n vraag gestel om Hom te versoek en gesê: Meester, wat is die grootste gebod in die wet? En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete” (Matthéüs 22:35-40).

Die eerste en belangrikste gebod is om die Here met jou hele hart, siel en verstand lief te hê. Ons mag niks van Hom terughou nie. Die tweede is dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself. Hierdie twee eenvoudige, nie-swaar gebooie som die hele wet van God op.

Jesus sê hier in wese dat ons nie in gemeenskap met God kan wees of in sy heerlikheid kan wandel as ons ‘n wrok teen iemand het nie. Daarom beteken om God lief te hê, om elke broer en suster op dieselfde manier lief te hê as wat ons deur die Vader liefgehê word.