Intimiteit met God

David Wilkerson (1931-2011)

“En sonder geloof is die onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek” (Hebreërs 11:6, AFR53).

Al die gebede in die wêreld sal jou nie help nie, tensy jy dit met geloof meng. Jy kan dae of weke lank vas en bid, maar jy sal God nie behaag sonder geloof nie. Jou pogings sal jou niks baat as jou hart nie in geloof geanker is nie. 

“Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word” (Jakobus 1:6-7)

As jy vurig bid maar nooit glo dat God jou sal verhoor nie, stel jy Hom in die verleentheid. Dit laat jou dalk goed of heilig voel; maar in werklikheid mors jy jou tyd en jy bly in ongeloof en twyfel. 

Ek ken Christene wat sê hulle bid daagliks, dikwels met trane voor die Here, maar niks gebeur nie. Hulle bly swaarmoedig en depressief. Hulle lewens is altyd in verwarring omdat hulle in God se teenwoordigheid kom terwyl hulle nie ten volle oortuig is dat Hy sal doen wat Hy belowe het nie. 

Hoor sy versekering! “Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit sal ontvang, en julle sal dit verkry” (Markus 11:24). “En alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang as julle glo” (Matthéüs 21:22)

Baie van God se kinders leef soos geestelike armlastiges omdat iets gebeur het wat hulle God se liefde laat bevraagteken het. Hulle sê: "Hoe kan ek God vertrou as ek nie verstaan hoekom Hy sou toelaat dat so iets met my gebeur nie?" 

Daar is geen menslike antwoord vir hul verwarring nie. God ken die einde van die begin af en eers wanneer ons in die hemel is, sal ons verstaan hoekom sommige van hierdie winde en golwe ons neergewerp het en hoekom God dit alles toegelaat het. 

Ek glo dit is al wat ons vir nou moet weet, is dit: “Kan 'n vrou haar suigling vergeet, dat sy haar nie ontferm oor die seun van haar skoot nie?... nogtans sal Ék jou nie vergeet nie! Kyk, Ek het jou in die handpalms gegraveer” (Jesaja 49:15-16). God het sy woord aan ons gegee. “Jy is my kind. Jy is in die palm van my hand geskryf, so vertrou My!”