Iemand Wat Uiteindelik Opstaan

Gary Wilkerson

Hoe verander jy die gebroke en disfunksionele lot van jou familie? Is daar 'n geskiedenis van verskeie verslawings in jou familie? Hoe weerstaan jy 'n familie se “nalatenskap” wat misbruik, swaarkry, egskeiding, skeiding of twis was? Hoe word daardie familie verander?

Aan die ander kant sê jy dalk: “Wel, laat ek nou maar ophou luister, want ek het 'n goeie familie.” Ek wil jou vra: “Hoe word 'n baie goeie familie 'n wonderlike familie wat 'n getuienis is van die dinge wat God wil hê ons saam moet uitleef?”

My pa het in 'n Christelike huis grootgeword. Sy vader was 'n pastoor en kerkleier in Pennsylvania. Die huis waarin hy grootgeword het, soos hy dit teenoor my uitgedruk het, was uiters wetties. Sy susters moes lang rompe dra. Hulle mag nie 'n wasmasjien en droër in hul huis gehad het nie, omdat hulle geglo het dat dit luiheid sou veroorsaak.

Toe my pa 'n jong predikant was wat sy kudde bedien het, het hy besef dat hy besig was om mense onder 'n wettiese las te plaas. Hy het besluit dat hy nie net alleen daarvan vry sou word nie, maar dat hy ook sou preek om mense te help om van hierdie mentaliteit los te kom.

Hy het besluit dat hy gaan probeer verstaan waaroor die genade van God eintlik gaan; en toe hy dit in die Skrif sien, het hy begin juig. Sy hart het wyd oop gegaan vir die dinge van God en hy was soos 'n nuwe mens, net deur te leer dat jy nie werk om jou redding te verdien nie. Jy vrees nie. Jy dryf mense nie met vrees na Christus toe nie.

Ek is so bly dat my pa weggebreek het van die vreugdelose, wettiese geloof, sodat ek grootgemaak kon word in 'n huis wat die liefde van Jesus en die liefde en genade van God verstaan. My kinders en hul kinders en hul kinders se kinders gaan God dank dat hulle 'n voorvader gehad het wat bereid was om hierdie boeie te breek. In die komende geslagte, sal hulle terugkyk en sê: “Uiteindelik, was daar 'n man van God wat opgestaan en gesê het: ‘Dit is nou genoeg hiervan. Dinge gaan saam met my verander in hierdie familie.’”

Miskien sal jy die een wees wat dit doen en geslagte se pyn of wettisisme of verslawing vir jou familie breek. God kan dit in jou hart en jou lewe doen.